Bosveld SportLocal sportSport

Trotse stoeier verower goud en brons

Marie (16) 'n leerder van Hoërskool Hans Strijdom, het pas teruggekeer van Egipte waar sy aan die Afrika Spele deelgeneem het en bewys het dat sy een van die land se beste jong stoeiers is.

MOOOKGOPHONG – NIKS is so lekker soos die glorie van ‘n oorwinning en dit nogal in n vreemde land, sê Marie Oosthuizen, top Suid-Afrikaanse stoeier terwyl sy trots na die goue en brons medaljes loer wat om haar nek hang.

Marie (16) ‘n leerder van Hoërskool Hans Strijdom, het pas teruggekeer van Egipte waar sy aan die Afrika Spele deelgeneem het en bewys het dat sy een van die land se beste jong stoeiers is.

Marie was deel van ‘n Suid-Afrikanse Kadettespan wat in die o/17 ouderdomsgroep goud gekry het. “Sjoe, die stoeiers daar is baie groot en lyk soos mans. Ek moes alles insit teen die Egiptenaar tydens die finaal en die goud is welverdiend.”

Marie was eers agter met 3-0 nadat die Egiptenaar haar verskeie keer van die mat afgestoot het.

Sy het verbete teruggeveg en haar vasgepen om ‘n val aan te teken vir die wen.

Die soete oorwinning het nog nie behoorlik ingesink nie toe Marie haar slag ook wys as deel van die Suid-Afrikaanse Junior Proteaspan. Sy het in die o/20 ouderdomsgroep gestoei teen’ n stoeier van Tunisië en ‘n brons medalje in die semi-finaal opgeraap.

“Dit is steeds goed omdat ek in ‘n hoër ouderdomsgroep gestoei het. Dit was die eerste keer dat ek oorsee deelgeneem het, en wat ‘n wonderlike ervaring was dit nie. Die gevoel en glorie as n mens ‘n wenner is, is eenvoudig ongelooflik. Ek het baie ure se harde werk en oefening ingesit en my pogings is ryklik beloon.”

Marie bedank die Potgietersrus Stoeiklub, haar afrigter van die afgelope vyf jaar, Japie Snyders en Hoërskool Hans Strijdom vir hul lojale ondersteuning.

Haar grootste ondersteuner is haar pa, Bertus, wat in haar glo en alles doen om sy dogter te help om hierdie talent van haar te ontwikkel. Bertus bedank almal wat hul beursies oopgemaak het sodat Marie oorsee kon gaan deelneem. Nou wink die Wêreld Kadette-stoeikampioenskappe wat in Augustus in Bosnië gehou word en Marie is gemotiveerd om vir volk en vaderland te wys sy is katjie van die stoeimat.

Related Articles

Back to top button