BlogsOpinion

KATROLKOORS: Swartbaarhengel regdeur die jaar

Die "ou mense" het altyd gesê mens kan net visvang in maande met 'n "R" in, maar swartbaarhengel is 'n aktiwiteit wat dwarsdeur die jaar beoefen kan word.

Die “ou mense” het altyd gesê mens kan net visvang in maande met ‘n “R” in, maar swartbaarhengel is ‘n aktiwiteit wat dwarsdeur die jaar beoefen kan word.

Die geheim lê daarin om die vis se gedrag te ken, wat nie so moeilik is nie, en jou hengel daarby aan te pas.

Dit is nou winter en baie jagters maak gereed om ietsie te gaan skiet. Vir my is swartbaarhengel net soos jag, maar met ‘n verskil. Heeldag word verskillende soorte aas in die water gegooi en omtrent dadelik weer ingebring. Die uitdaging is om ‘n roofvis te soek en hom dan uit te oorlê om aan kunsaas te vreet. Die voordeel is – ek kan die vis vrylaat en hom later weer vang.

Maar om hierdie reeks sinvol te maak, moet ons by die begin begin en daarom kyk ons eers na hengelgerei. Net soos ‘n ambagsman bepaalde gereedskap het vir sy nering, is my visstok ‘n gereedskapstuk wat ek gebruik om ‘n sekere werk te doen. Vir elke aanbieding en tegniek wat swartbaarhengelaars gebruik om die vis uit te oorlê, is daar ‘n visstok wat die werk goed kan doen.

Ek sê nou nie dat ‘n beginnerhengelaar oorboord moet gaan en ‘n hele arsenaal stokke loop koop wat hier bespreek word nie. Nee, ‘n goeie stok wat oor ‘n breë spektrum tegnieke gebruik kan word, is ‘n medium-swaar-aksie grafietstok. Die lengte sal afhang van die leser se persoonlike lengte.

Persoonlik verkies ek ‘n ses-voet-ses, of langer stok. Die handelsnaam van jou keuse sal afhang van wat jou sak pas, maar onthou die spreekwoord “goedkoop koop, is duur koop”.

Die prys van stokke wissel van ‘n paar honderd rand tot ‘n paar duisend rand per stok. Die belangrikste is, die uitgawe moet nie die gesin in ellende dompel nie.

Stokke vir swartbaarhengel is beskikbaar in twee tipes; naamlik, “baitcasters” en “spin”-stokke. Elk van hierdie tipes is weer beskikbaar in verskillende lengtes, aksies (buigbaarheid in die stok) en tipe handvatsels.

Kortliks: korter stokke is gemaklik wanneer daar naby gehengel word en vanaf klein vaartuie soos opblaasbote, binnebande en kanoes.

Met langer stokke kan baie meer akkuraat en verder gegooi word. Die lengte van die stok help ook met die hefboomaksie wat gebruik word wanneer die vis uit die struktuur gebring word, want swartbaars kruip juis daar weg waar niemand dit waag om te hengel nie. Swartbaars is struikrowers wat in die skaduwee van wegkruiplekke hulle prooi voorlê, hulle vreet en swem dan terug om te wag vir die volgende slagoffer.

Vir sulke digte struktuur gebruik ek ‘n sewe-voet-ses, swaar-aksie stok wat gemaak is om met sagte plastiese kunsaaswurms te hengel. ‘n Te “slap” stok gaan stadig reageer wanneer ek vaskap en my net frustreer.

Indien die leser dit verkies om met harde plastiese kunsvisse te hengel, sal die ideale stok ‘n medium-swaar aksie hê wat bietjie meer toegee wanneer die vis die aas gryp.

‘n Te stywe stok soos ‘n swaar-aksie stok sal die kunsvis uit die vis se bek skeur nog voordat die vis die aas behoorlik gevat het.

Om terug te kom na die medium-swaar aksie stok: Dit is die ideale stok om swaailemme (spinnerbaits) mee te hengel óf wanneer ‘n sagte plastiese kunsaas gewigloos gehengel word. Kleiner “jigs” (nee, dit is nie ‘n loodkop nie) en middelslag harde plastiese kunsvisse kan gemaklik gegooi word.

Vir ligte, klein kunsaas is die beste opsie om ‘n “spin”-stok te gebruik. Dit is die stokke met die groot ogies waaraan ‘n koffiemeulkatrol geheg word met ligte lyn.

Die dikte van die stok se ogies is ‘n goeie aanduiding van die stok se kwaliteit. Goedkoop stokke het dik (onooglike) ogies, terwyl beter kwaliteit stokke fyn sensitiewe ogies het.

Die ogies word gevoer met verskeie soort materiale soos silikonkarbied, silikonnitriet, alkonied, aluminium en Torzite wat die beste kwaliteit is.

Die handvatsels bestaan gewoonlik uit kurk of neoprene. Beter kwaliteit stokke het Portugese kurk.

Volgende week kyk ons na die tipes katrolle wat gebruik kan word.

Wenk van die week:

Verwyder die plastiek om ‘n nuwe stok se kurkhandvatsel anders gaan die kurk muf, vrot en afval. Gebruik spiritus om die handvatsel skoon te maak en nuut te laat lyk.

• Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

 

SA Bass berig nou weeklikse bederf vir Lim hengelaars

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button