Bosveld NewsNews

Tonge klap in DA

Midde in die spervuur is 'n DA raadslid van wyk 32, wat na bewering glo die rassistiese 'k' woord gebruik het.

MOKOPANE – DAAR is die afgelope paar maande groot onmin in DA geledere en beskuldigings en boodskappe vlieg heen en weer op die sosiale netwerke. Midde in die spervuur is Marcelle Maritz, DA raadslid van wyk 32 en bestuurder van die DBV, wat na bewering glo die rassistiese ‘k’ woord gebruik het.

Volgens Beyers Smit, DA parlementslid, het ‘n persoon by hom kom kla oor Maritz se gebruik van die ‘k’ woord en het hy die aangeleentheid onder die DA se Provinsiale Uitvoerende Komitee se aandag gebring. Die komitee het toe besluit om die saak na die DA se Provinsiale Dissiplinêre voorsitter, Federick Pohl, te verwys wat nou ondersoek instel.

Bosveld het ook oproepe ontvang van lesers wat beweer ‘n ander DA raadslid van die dorp gebruik openlik die rassistiese ‘k’ woord in sy gesprekke. Smit het hierop gesê die DA sal nie rassistiese opmerkings duld nie en die gemeenskap is welkom om hom te kontak en formele klagte te lê.

Smit sê die binnegevegte in die party het begin toe hy Delene Pelzer verlede jaar by die DA ingetrek het as aspirant kandidaat vir wyk 32. Dit is die wyk wat tans onder Maritz sorteer.

Pelzer vertel vandeesweek aan Bosveld dat sy verlede jaar vir Maritz gesê het sy wil meer betrokke raak by die DA. “Maritz en Smit het toe in September daaroor gesels en besluit dat Maritz in die 2016 munisipale verkiesing vir wyk 31 in die plek van Korny Dekker, wat tans raadslid vir dié wyk is, sal staan. Ek is gewerf as ‘n aspirant kandidaat vir wyk 32 en het saam Maritz in die wyk begin werk. In Desember het Maritz my genader om saam haar oor te stap na die Vryheidsfront toe. Ek het geweier en ons verhouding het skipbreuk gelei. Maritz het toe besluit sy gaan nie meer wyk 32 opgee nie.”

Die vet was in die vuur en die vonke het begin spat toe Maritz daarna ‘n klag teen Smit by die DA aanhangig gemaak het dat hy verdeeldheid in die party skep. “Haar klag het geen meriete gehad en daar is nie bewys dat ek enigsins verdeeldheid veroorsaak het nie,” sê Smit. Hy het ook in die tyd die DA se Provinsiale Uitvoerende Komitee laat weet hy het ‘n klag ontvang dat Maritz die “k” woord gebruik.

Jacques Smalle, leier van die DA in Limpopo, het aan Bosveld gesê die saak sal deeglik en deursigtig ondersoek word. Daar moet na albei kante van die munt gekyk word. Maritz wou geen kommetaar lewer nie.

Intussen gons dit op Facebook. Percy Nketse, voorsitter van die Mogalakwena Residents Association, sê verlede Vrydag op sy Facebook blad: “I honestly never thought the DA would face a situation where by when some comrades view others as potential threats would go to an extend of fabricating charges against the true leaders whom we respect and adores (pure democrats). That’s why I will always respect non racialists like Mrs. Marcelle Maritz-Mgidi who is a mother to most of the black as we are.”

Maritz reageer daarop deur te sê: “I love the people that loves me and I know you all love me. Thanks for standing up for me. Love you all.”

Marcelle Maritz en Delene Pelzer in gelukkige tye waar hulle hand aan hand saam gewerk het in wyk 32.
Marcelle Maritz en Delene Pelzer in gelukkige tye waar hulle hand aan hand saam gewerk het in wyk 32.

Related Articles

Back to top button