NewsSchools

Kruinies reik uit na gemeenskap

Dit is weer tyd vir die jaarlikse Mnr. en Mej. Heuwelkruin, waar leerders van Curro Heuwelkruin inspring en gemeenskapswerk doen.

POLOKWANE – Dit is weer tyd vir die jaarlikse Mnr. en Mej. Heuwelkruin, waar leerders van Curro Heuwelkruin inspring en gemeenskapswerk doen.

Dié jaar is daar slegs drie leerders in elke groep en elke groep het verskeie projekte waaraan hul werk.

Die eerste groep bestaan uit Bianca Jardim (gr. 11), Kamalan Naidoo (gr. 10) en Mauritz Pretorius (gr. 11).

Hulle beplan om aan Bella Vista Tehuis, Bennie Boekwurm Kleuterskool en die Dierebeskermingsvereniging aandag te gee deur gereeld te gaan kuier, opknappingswerk te doen en komberse vir die diere in te samel.

Hulle gaan laastens deel wees van Autism Awareness Week, wat reeds verby is, deur geld in te samel om bewusmaking van outisme te help bevorder.

Bianca verkoop balkies wat sy self maak om mense meer bewus te maak van outisme.

“Ek het glad nie verwag om gekies te word as ‘n finalis vir Mnr. en Mej. Heuwelkruin nie en was baie verbaas toe hulle my naam noem,” vertel Bianca.

“Ek is wel bly ek is gekies, want dit is lekker om iets vir iemand anders te doen en te sien hoe ander mense se lewens kan verander.

“Dit is wonderlike lewenservaring wat ons opdoen, ons is nie altyd bewus van wat om ons aangaan nie.”

Kamalan vertel hy is trots dat ander mense in hom glo en dat hulle weet hy is in staat daartoe om ‘n verskil te maak.

Hy sê hy sien uit na die tyd wat voorlê en dat die wete dat hy nou iemand kan help, vir hom baie beteken.

“Ek was geweldig verbaas. Dit gaan nie oor die wenner nie, maar daaroor om mense te help. Mense wat hulp nodig het, het altyd ‘n glimlag,” vertel Mauritz oor sy ervaring tot dusver.

Bianca vertel dat hul eerste besoek aan Bella Vista Tehuis haar oë oopgemaak het omdat sy nie kan dink dat mense in sulke omstandighede leef nie.

“Ons wil die lewe vir hulle beter maak.”

Related Articles

Back to top button