Editor's noteLocal NewsNews

Elmarie sê dankie vir almal

Elmarie is einde Januarie met dikdermkanker gediagnoseer. ”Baie dankie aan almal van julle. Sonder julle sou my pad baie swaar gewees het.”

POLOKWANE – Die jaar 2014 het nie goed begin vir Elmarie Kruger en haar gesin nie.

Elmarie is einde Januarie met dikdermkanker gediagnoseer.

Sy vertel hul beproewing het reeds in 2006 begin toe haar man, Deon siek geword het.

Hy het in 2009 sy werk verloor en gevolglik behoort hulle nie meer aan ‘n mediese fonds nie.

“In 2012 is Deon weer in die hospitaal opgeneem nadat hy in ‘n semi-koma verval het. Daar is ‘n bloeiende maagseer by hom ontdek. In dié tyd moes ek die pot aan die kook hou deur te werk en ook na hom om te sien.” Sy vertel dat sy heeltemal te hard gewerk het, en dit waarskynlik sy tol geëis het.

Sy het in Maart 2013 reeds begin sleg voel, maar dit was eers aan die begin van 2014 dat sy dokter toe gegaan het.

‘n Sonar is gedoen, vanwaar sy verwys is vir X-strale. ‘n Biopsie het gevolg en ‘n kolonoskopie ook.

“Op 8 April verlede jaar is ‘Isakkie’, die kolostomiesakkie, vir my ingesit en ek het vir ses weke bestraling ontvang. “In September is die gewas verwyder. Vir ses maande daarna het sy een week ‘n maand chemoterapie ontvang.

In Junie sal sy weer vir bloedtoetse en X-strale moet gaan om seker te maak sy is heeltemal “skoon”.

“Dokters het my gewaarsku dat die kanker na my longe en lewer kan versprei, maar ek is hoopvol dat dit nie sal gebeur nie.”

“Ek voel baie goed. Die chemoterapie veroorsaak net dat ek nog moeg is. Ek het van die begin af vir die Here gevra dat my hare nie sal uitval of my geheue aangetas sal word nie. Hy het my gebed verhoor. Daar is soveel mense wat my bygestaan het, en steeds bystaan, ek kan nie almal bedank nie. Ek gaan aan met my haarkappery, maar net om myself uit te leef en besig te bly. Dit is immers my stokperdjie.”

Elmarie wil graag dankie sê aan die volgende mense: “Eerstens, dankie Jesus. Sonder Hom sou ons as gesin nie die tyd oorleef het nie. Dan my man, Deon, kinders, Leselle, Bertie, Dian, Riaan en Esmerelda, ons ander familie en vriende.” Ook haar vriendinne van baie jare, Ella Botha, Elmarie Venter, Jean Stone, Margarete Scott, Elise Rabie, Alet van Rooyen en geestelike moeder, Tannie Nellie Knell, word uit haar hart bedank.

“Vir pastoor Betsie Joubert, Agapé Polokwane, Taberna Dei Moedergemeente en A.G.S. Pretoria, selgroepe en ander voorbidders asook dr. Stopforth en dr. Wreyford en al die dokters by Steve Biko Hospitaal, wil ek ook dankie sê.” Die plaaslike skenkers in Polokwane en Mokopane asook oorsee se skenkers en die Tipuana tussen tuiste en Rieton Dale Lodge word ook bedank.

“Dankie aan Review vir die smaakvolle plasing van die berigte oor my. Baie dankie aan almal van julle. Sonder julle sou my pad baie swaar gewees het.”

Related Articles

Back to top button