Local NewsNews

KLEINSAKE: Spanwerk sorg vir ekstra inkomste

Wat aanvanklik as 'n tydverdryf begin is bring deesdae 'n gemaklike inkomste na die huis van Annetjie en Wessie van der Westhuizen van Polokwane.

POLOKWANE – Wat aanvanklik as ‘n tydverdryf begin is bring deesdae ‘n gemaklike inkomste na die huis van Annetjie en Wessie van der Westhuizen van Polokwane.

Die egpaar is afgetree en maak staat op ‘n staatspensioen as inkomste. Beide van hulle het besef dat hulle meer as net dit nodig het.

“Ons is beide lief daarvoor om met ons hande te werk en ons is ook handig. Ons het besluit om die items wat ons maak te verkoop,” vertel Annetjie.

 

“Ek kan nie sit en niks doen nie. Ek moet besig bly”

 

Annetjie maak serpe en barette asook inkopiesakke, plekmatjies en soms hemde. Sy vertel dat sy deur die jare altyd gebrei het en dat mense gereeld by haar bestellings geplaas het.

Sy wou nog altyd hessian-sakke wat uitgevoer is met materiaal maak, en dit ook verkoop en ‘n paar jaar terug is dié droom verwesenlik.

“Ek kan nie sit en niks doen nie. Ek moet besig bly. Ek het dikwels mense wat my produkte koop en dan oorsee neem. Dit is lekker as dit gebeur.”

Wessie doen al vir 40 jaar lank houtwerk en maak ook geweersakke van seil. “Ek het ‘n industriële naaimasjien wat ek gebruik om dié sakke te maak.”

Wessie maak nie net sakke nie, maar ook klein gebruiksitems uit hout. Hy wys graag sy speseryrakke en houtboksies wat deur Annetjie geverf is. Hy vertel hy maak ook messe en skêre skerp. Verder maak hy klein stofies wat met houtskool werk en vir ure water kan laat kook. Hy is ook trots op die son-oond wat hy gemaak het wat sonaangedrewe is.

“Ons het die items begin maak en verkoop om maar ‘n ekstra inkomste te kry. Ons besoek graag vlooimarkte waar ons dan ons produkte uitstal.”

Om van die produkte te koop kontak vir Wessie en Annetjie by 072 627 6429.

Tye is finansieel swaar deesdae, met talle inwoners wat dit moeilik vind om werk in die formele sektor te kry. Baie maak ‘n plan om ‘n ekstra inkomste te genereer deur ‘n bepaalde diens aan te bied, of produk te lewer, in die informele sektor (sommer van die huis af). Review ondersteun hierdie pogings van mense wat hand in eie boesem steek en ons plaas graag hulle stories gratis. As jy so ‘n entrepreneur is, of van een weet, stuur ‘n e-pos aan hilda@nmgroup.co.za met ‘n kort beskrywing en kontakbesonderhede. Ons hoor graag van jou.

Related Articles

Back to top button