Local NewsNews

Moedersdagvreugde wag om die draai

MOEDERSDAG is om die draai en ook hier op Mokopane sien baie ma's daarna uit om bietjie bederf te word.

MOKOPANE – MOEDERSDAG is om die draai en ook hier op Mokopane sien baie ma’s daarna uit om bietjie bederf te word.

Vir Deirdre Strauss, ‘n ma van vyf musikale en kunskinders, is Moedersdag altyd besonders. “Die kinders maak gewoonlik vroegoggend ontbyt waarmee ek in die bed verras word. Daar word dan heerlik saam op die bed gekuier en gelag.”

Deirdre, wat Hoërskool Piet Potgieter se koor afrig, vertel haar eersteling, Elduré (21) is kort voor Moedersdag op 3 Mei gebore en haar laatlammetjie, Anyazé is elf jaar later op dieselfde dag gebore. Moederskap maak dit vir haar moontlik om haar kreatiwiteit uit te leef en saam met haar kinders aan te pas en in te skakel.

Lorinda dos Santos het onlangs vir die eerste keer ma geword en vir haar is dit ‘n hele nuwe belewenis. Klein Luca, nou ses weke oud, is ‘n soet baba en maak moederskap die moeite werd. Net om haar vas en dop te hou is ‘n wonderlike ervaring. Sy en haar man, die tandarts, Marcello, gaan tydens Moedersdag iewers in die bosveld op ‘n plaas deurbring en sy vermoed sy sal heerlik bederf word. Daardie oomblikke wanneer haar tienerdogter, René (13) haar trots maak, is vir haar baie spesiaal, sê Michelle Buitendag, skakelbeampte van Hoërskool Piet Potgieter. René gee elke jaar met Moedersdag vir haar ‘n handgemaakte kaartjie en geskenkpakkie met geskenke wat sy nuttig kan gebruik. Michelle is ook die ouma van klein Michke (1) wat ‘n spesiale plekkie in haar hart het. Klein Mischke moes na geboorte verskeie operasies ondergaan en is reeds van kleintyd af ‘n vegtertjie.

Sanet Dercksen, Bosveld se ontvangsdame, is ook ‘n ma van twee tieners. Sy vertel sy en haar kinders gaan gewoonlik op Moedersdag saam kerk toe. Haar lewensmaat, Munro, sal daarna ‘n vleisie oor die kole trek. Haar kinders bederf haar altyd met ‘n geskenkie en lekker saamwees- oomblikke. “Die lekkerste van ma-wees is die onverwagte drukkies veral noudat hulle ouer is.”

Gebruik gerus die luilekker langnaweek om ‘n spogkaartjie vir jou ma of ouma te ontwerp vir Moedersdag. Hier is idees:

Untitled-1

 

Related Articles

Back to top button