Local NewsNews

PIENKVOETJIES: Tien jaar en toe kom hulle kleinding, Johandré

Charlene en André Coetzee is duidelik versot op die nuwe toevoeging tot die gesin.

POLOKWANE – Vir klein Johandré het sy ouers 10 jaar lank gewag.

Charlene en André Coetzee is duidelik versot op die nuwe toevoeging tot die gesin. Johandré is op 7 April gebore en het 2.609kg by geboorte geweeg. Hy was 48cm lank.

“Ons het baie lank probeer om ‘n baba te hê. Ek het vyf miskrame gehad voor ons met Johandré swanger geraak het,” vertel Charlene.

“Ek was besig om te ‘detox’ en het in daardie stadium opgehou rook. Daar was tekens dat ek swanger was, maar ‘n deel van my het gedink dit is dalk maar net newe-effekte van die ontgifting.” ‘n Tuisswangerskaptoets het haar vermoede bevestig.

“Ek het dadelik vir André gebel. Omdat ek hom nie in die hande kon kry nie, het ek my ma gebel!”

“Ek was so bly en moes net vir iemand vertel. Na al die miskrame het ons besluit om nie vir baie mense te vertel dat ek swanger is nie. Dit is nie maklik om weer te verduidelik as die swangerskap beëindig is nie.” Charlene vertel dat sy dikwels onseker en bang was gedurende die swangerskap en dat sy bekommerd was of alles “reg sou wees” met Johandré.

Behalwe vir hoë bloeddruk aan die einde van haar swangerskap, het sy nie probleme ondervind nie. “Ek was baie kere lus vir kos wat nie vir swanger vroue aanbeveel word nie, soos oesters, en rou vleis soos biltong. Ek het die oesters letterlik op my tong geproe. André se seep se reuk het my ook naar laat voel.”

Charlene en André wou graag hul baba se geslag weet sodat hulle kon gereed maak vir sy geboorte. Die oomblik toe hulle hoor dis ‘n seun het hulle begin klere koop en ook sy kamer begin gereed kry. “André se pa se naam is Johan en ‘n maand voor ek uitgevind het ek is swanger, het ek die naam Johandré neergeskryf en gedink dit is ‘n oulike naam. As jy die eerste drie letters wegvat, is dit sy pa se naam en as jy die laaste drie letters wegvat is dit sy oupa se naam.” Charlene vertel dat sy beplan het om deur middel van ‘n ‘n keisersnit geboorte te gee. Uiteindelik moes ‘n noodkeisersnee uitgevoer word.

Sy glimlag toe sy vertel dat Johandré uit haar maag “in pappa se arms ingegaan het”.

“Die eerste paar vuil doeke was vir my en Charlene ‘n uitdaging,” vertel André. “Ons altwee raak baie maklik naar. Nou gaan dit darem al makliker.”

Related Articles

Back to top button