Editor's noteLocal NewsNews

Merk: Wiskunde op met 14%

”Ek het nege ou vraestelle vooraf vir elke vraestel uitgewerk. Ek het geweet ek moes beter vaar.” 2014-matrikulant, Chanté Jardim

POLOKWANE – ‘n Leerder van Hoërskool Pietersburg was erg teleurgesteld toe haar matriekwiskundepunte einde verlede jaar baie laer was as wat sy verwag het.

Dit het oornag egter verander toe sy haar vraestel laat hermerk het en sy ‘n volle 14% bygekry het!

Chanté Jardim het vyf onderskeidings gekry, maar haar lae wiskundepunt (46%) het beteken dat sy die beurs waarvoor sy aansoek gedoen het en haar enigste hoop was om universiteit toe te kan gaan, verloor het. Sy moes ‘n minimumpunt van 50% behaal vir wiskunde om te kwalifiseer om onderwys met B. Ed fisiese wetenskappe te studeer. Haar plek by die universiteit sowel as haar koshuisplek was klaar bespreek en sy het die keuring geslaag. Haar ouers sou egter nie kon bekostig om vir haar studies te betaal. nie – sy moés ‘n beurs kry.

“Ek het baie hard gewerk en nege ou vraestelle vooraf vir elke wiskundevraestel uitgewerk. Ek het gedink dalk het ek maar iewers gróót drooggemaak en net so een aand daaroor gehuil en toe besluit om maar die beste van ‘n slegte saak te maak. Ek is ‘n baie positiewe mens en het besluit ek sou weer inskryf en het gehoop om my punte dan te verbeter. My wiskundeonderwyseres, Elsje van der Walt, het my egter aangeraai om die vraestel te laat hernasien. Ek was bang, en het gedink: wat sou ek maak as die punte nóg laer is? Sy het my egter omgepraat en ek het my wiskunde sowel as fisiese wetenskap vraestelle laat hernasien.”

Sy het intussen by ‘n konstruksiemaatskappy begin werk.

Verlede week Maandag is die finale uitslae en rapporte uiteindelik vrygestel: haar wetenskappunt het met twee persent gestyg en haar wiskundepunt met ‘n 14%!

Die twee persent van haar wetenskappersentasie het veroorsaak dat haar punte nou goed genoeg is om ook vir ander rigtings te kon inskryf.

“Alles gebeur met’n doel,” sê die positiewe en volwasse jong dame. “Die blootstelling aan die grootmenswêreld het vir my ontsaglik baie beteken.ek het geld gemaak en heelwat gespaar. Ek kyk na die positiewe kant: Ek was aanvanklik baie teleurgesteld, maar nou is ek so trots en bly oor my 60% vir wiskunde, die tyd het my oë laat oopgaan vir wat die toekoms vir my kan inhou.

“Die hoër punte het nou soveel meer deure vir my oopgemaak en ek is glad nie meer seker dat ek wel onderwys wil studeer nie.”

Chanté het besluit om vir beroepsvoorligting te gaan en dan te besluit waarvoor sy wil inskryf volgende jaar.

Die departement van onderwys se woordvoerder, Paena Galane is gevra hoe dit moontlik is dat daar so ‘n groot verskil tussen die eerste en tweede merk van dieselfde vraestel kan wees.

Sy antwoord: “Die nasionale senior sertifikaat eksamen word gereguleer deur beleidsvoorskrifte. Enigiets wat gedoen word op die verklaring van resultate en/of sertifikate word binne die voorskrifte gedoen. Die departement behou hom dus die reg voor om veranderinge aan dokumente, indien nodig, aan te bring, maar wel binne die beleidsraamwerk.”

Related Articles

Back to top button