BlogsOpinion

Die buffels het gekom

Dit het eers begin as ‘n veraf dreuning… later was dit soos ‘n gedruis van ‘n swerm kwaai bye wat deur ‘n klankversterker vlieg. Maar soos hulle nader kom, het dit weer geklink soos die hoewe geklap van ‘n trop buffels wat verbykom… Dan besef jy dit is weer tyd vir die jaarlikse Buffalo Rally …

Dit het eers begin as ‘n veraf dreuning… later was dit soos ‘n gedruis van ‘n swerm kwaai bye wat deur ‘n klankversterker vlieg. Maar soos hulle nader kom, het dit weer geklink soos die hoewe geklap van ‘n trop buffels wat verbykom… Dan besef jy dit is weer tyd vir die jaarlikse Buffalo Rally in Mosselbaai.

Dit is wanneer sowat 5 000 motorfietsryers van regoor die land toesak op ons dorpie en in een naweek sowat R15 miljoen hier spandeer. Hulle is voorwaar ‘n spesie op hulle eie, en ‘n belewenis om te aanskou! Hier en daar kan ‘n mens sien, is rustige gesinsmanne met mooi ‘ysterperde’ wat deel is van die groep.

Maar dan is daar ook ander met Nazi helmets waaronder ‘n bokstert uitloer met ‘n paar gespierde, getatoeërde bo-arms wat op weglê handlebars rus wat lyk soos ‘n koedoebul se horings wat by die punte omgebuig is. Dit laat jou duidelik verstaan; ‘Ek is ‘n goeie ou maar ek laat nie met my mors nie…’

Verder is daar die kenmerkende leerbaadjies, bikerklub kentekens, oprygstewels met staalpunte en biker baarde… En natuurlik is daar die ysterperde… gewoonlik grotes.

Sommige kom die dorp ingetoer met ‘n ‘sweetheart’ op die agterste sitplek of op ‘n groot bulderende driewiel-motorfiets met ‘addisionele geselskap’ op die passasiersitplek.

Een ding is seker. Die mense is een groot familie en hulle staan bymekaar. Daar word saam gekampeer en saam gebraai, gelag en gesels. En dan as almal in die regte stemming is, word daar toertjies met die ysterperde uitgehaal. Daar word vorentoe gejaag en die voorrem word getrek sodat die motorfiets agter oplig en hy net-net wil halsoorkop val. Dan word daar weer vetgegee sodat die voorwiel oplig en ‘n lang ent op die agterwiel ‘ge-wheeley’ word. Of vir pure sports word daar net al in die rondte getol met ‘n vinnig draaiende agterwiel sodat dik rookwolke in die lug opstyg. Al die gebokspringery met die ysterperde herinner baie aan die inbreek van wilde perde op die plaas of die rodeo’s in die VS!

Wanneer ‘n mens die klomp bikers so bekyk, besef jy dat die mens nie gemaak is om alleen te wees nie. Ons hunker daarna om deel van ‘n groep te wees. Daar moet mense wees met wie jy jou hartseer en blydskap kan deel. Jy hoef nie ‘n biker wees nie, maar het jy so ‘n groep waaraan JY ‘behoort’?

Die Bybel praat ook van so ‘n ‘groep’; Jesus se gemeente as ‘liggaam van Christus’ wat deel is van Hom wat die ‘Hoof’ is. Tussen die lede is daar ‘n geestelike gemeenskap (koinonia) Dit is ‘n sonderlinge Griekse woord wat beteken ‘gemeenskap van die heiliges’ (‘heiliges’ is gewone sondaars soos ek en jy wat Jesus as Verlosser aanvaar het – 1Kor 1:2 en 30) Hier deel ons ook met mekaar en staan mekaar by: En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. (1Kor12:26).

Dit kom alles al langer as 2000 jaar. Toe was daar ‘n Man; ‘n skrynwerker. Hy het nie ‘n motorfiets gehad of ‘n leerbaadjie of ‘n valhelm nie, nie eers ‘n donkie om op te ry nie. Daar is ‘n debat of Sy hare lank of kort was maar die belangrikste is dat mense het na Hom toe gestroom vir nuwe hoop, vergifnis, visie en ‘n doel in die lewe. Onder Sy volgelinge tel daar deur die jare heen fyn opgevoede mense, gesinsmense, professionele mense maar ook rowwe ‘jacks’, waaghalse, bikers, sportmanne en veel meer. Hulle het hulle rondom Jesus geskaar. Hy het met Sy boodskap van liefde hulle besiel om te werk vir ‘n onsigbare Koninkryk waarin liefde vir God en jou medemens die botoon voer.

Of jy dit wil glo of nie ; jy kan ook ‘n “heilige’ word deur Hom as Verlosser te aanvaar. Moenie dat klein dingetjies in die Kerk jou afsit om dit te doen nie…(www.dsgielie.net)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button