Local NewsNews

KLEIN ONDERNEMINGS: Selfs béter as die regtes, meen Jan

Die idee om parfuum te verkoop het hy gekry toe hy en sy vrou, Suzanne, vroeg verlede jaar koppe bymekaar moes sit om te kyk waar en hoe 'n ekstra geldjie gemaak kan word.

POLOKWANE – ‘n Ekstra inkomste om die sak maandeliks aan te vul is deesdae broodnodig.

So ook vir plaaslike inwoner Jan Snyder. Die idee om parfuum te verkoop het hy gekry toe hy en sy vrou, Suzanne, vroeg verlede jaar koppe bymekaar moes sit om te kyk waar en hoe ‘n ekstra geldjie gemaak kan word. Nie lank hierna nie het Perfume Parlour die lig gesien. “Ons het besluit om parfuum te verkoop omdat almal daarvan hou om lekker te ruik,” vertel hy.

Hulle kry die parfuum wat hulle verkoop uit Londen, “en teen heelwat goedkoper as die oorspronklike eweknieë”. Jan verduidelik: “Die etiket is verwoord ‘Inspired by’ wat beteken dat dit nie die oorspronklike is nie”. In baie gevalle, meen Jan, ruik hierdie weergawes selfs béter as die oorspronklikes.

“Daar is meer as 100 verskillende geure waaronder Hugo Boss, Opium en Royal Secret. Die parfuumstiffies (roll-on) kos tussen R50 en R70 en die deodorant tussen R150 en R200. Die geur Alien, wat deur mans en vroue gebruik kan word, verkoop baie goed. Daar is ook gegeurde room vir diegene wat eerder room verkies.”

Al is dit nie altyd ‘n maklike bedryf nie, geniet hulle dit, sê Jan. “Ek geniet dit om die parfuum te verkoop, al is dit nie altyd maklik nie. Ek wil nie in ‘n winkel vassit nie. Ek hou daarvan om met verskillende mense om te gaan en te kommunikeer.”

Een haakplek spesifiek, is dat ‘n man die parfuum verkoop.

“Dit is nie altyd vir ‘n man maklik om spesifiek parfuum te verkoop nie. Veral vroue, koop eerder by vroue.” Die embleem op hul produk – ‘n skoenlapper – is deur Jan en Suzanne self ontwerp.

Alhoewel besigheid aanvanklik stil was, meen Jan tye lyk al beter. “Tans verkoop ek deur tot deur en ook by vlooimarkte. Ek beplan wel om oor twee of drie jaar ‘n winkel oop te maak. Wat lekker is, is dat ek my eie tyd het.” Om by Jan parfuum te koop, skakel hom by 076 775 6461.

Tye is finansieel swaar deesdae, met talle inwoners wat dit moeilik vind om werk in die formele sektor te kry. Baie maak ‘n plan om ‘n ekstra inkomste te genereer deur ‘n bepaalde diens aan te bied, of produk te lewer, in die informele sektor (sommer van die huis af).
Review ondersteun hierdie pogings van mense wat hand in eie boesem steek en ons plaas graag hulle stories gratis. As jy so ‘n entrepreneur is, of van een weet, stuur ‘n e-pos aan hilda@nmgroup.co.za met ‘n kort beskrywing en kontakbesonderhede. Ons hoor graag van jou.

Related Articles

Back to top button