Local NewsNews

Ouma Sarah Swarts vier haar 100ste

Brille en pille is nie in die woordeskat van Sarah Swarts, beter bekend as Ouma Swarts nie, wat vandag (Dinsdag) haar 100ste verjaarsdag vier.

POLOKWANE – Brille en pille is nie in die woordeskat van Sarah Swarts, beter bekend as Ouma Swarts nie, wat vandag (Dinsdag) haar 100ste verjaarsdag vier.

Hierdie trotse ma van ses kinders, waarvan net vier nog lewe, en ouma van 14 kleinkinders en 13 agter-kleinkinders is baie gesond en kan nog goed hoor, sien, praat en loop.

“Deesdae raak ek net baie vinnig moeg, so ek kan nie ver afstande loop nie. Dit is deur die genade van die Here dat ek ook nie afhanklik is van pille nie. Die enigste kwaal wat ek het is bloeddruk, maar dit is goed onder beheer,” sê Ouma Swarts.

Ouma Swarts is die oudste inwoner van Westenburg en die eerste om haar 100ste verjaarsdag te vier.

“Al die eer kom die Here toe wat my al die jare gespaar het. Die geheim om só oud te word is, nie drink of rook nie en ek eet gesond. Dit is ook belangrik om nie stil te sit nie, kry genoeg oefening, al stap jy net om die blok. Deesdae kan ek nie ver stap nie, maar ek kry genoeg oefeninge deur tyd saam met my agter-kleinkinders te spandeer. Ek is regtig geseënd met ‘n wonderlike familie en ek dank die Here dat ek my verjaarsdag saam met hulle almal kan vier,” sê sy. Ouma Swarts is gebore in die Vrystaat, maar het in 1965 na Pietersburg verhuis en in New Pietersburg gebly.

In 1975 het sy en haar gesin na Westenburg getrek.

Ouma Swarts sê as sy so terugdink, verlang sy na haar kinderdae op hul plaas waar sy grootgeword het.

“Die kinders van vandag ken nie die vreugde van kindwees nie, en dis hartseer, want hulle jaag net die grootmens lewe na. Ek verlang na my jongmeisie dae toe ons in die veld die vee opgepas het. Hoe ek saam met my ma-hulle die bokke gemelk het, en brode gebak het. Ons het lekker bome en berge geklim.

“Natuurlik as grootmens my troudag en die geboorte van my kinders sal altyd na aan my hart bly,” vertel sy.

Ouma Swarts se verjaarsdagwens is om haar agter-kleinkinders se kinders te sien. “Ek is dankbaar vir die jare wat die Here my gegee het, ek sal graag nog baie meer wil sien. My ma was 112 toe sy oorlede is, ek wens om nog ouer te word, met goeie gesondheid,” vertel sy.

Sy voeg ook by dat die lewe nie voorspelbaar is nie, en dat die mens se tyd nie God se tyd is nie.

“Die dag wanneer die Here my kom haal, is dit my wens dat my kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders hou by die beginsels wat ek hulle geleer het. Eer jou mede-mens, wees lief vir mekaar, ondersteun en respekteer mekaar en ander. Bly getrou in die Here, want sonder Hom is jy niks.

Goeie opvoeding maak ‘n mens, as jy nie goeie maniere het nie is jy verlore en niemand sal vir jou omgee nie,” sê sy.

Haar kinders Rose, Lizzy, John Swarts en Johanna Kemp sê hulle is baie trots en bly om saam met hulle ma haar 100ste verjaarsdag te vier.

“Dit is ‘n groot voorreg en ons dank die Here vir die geleentheid. Ons ma is ‘n wonderlike vrou en ons bid dat die Here haar nog lank vir ons sal spaar,” sê die kinders.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button