BlogsOpinion

BOSVELDPRAATJIES: Facebook se pleegsondes

MONICA Smit (nou Lombard) is toe ‘n paar Saterdae gelede in Randburg getroud. Beter Helfte is ‘n getroue aanhanger van Facebook. Dis nou daardie internet gedoente waarop jy 2 000 vriende het waarvan net een uiteindelik vir jou begrafnis opdaag. Ewenwel, ek gaan loer so dan en wan skelm op haar Facebookblad – darem met …

MONICA Smit (nou Lombard) is toe ‘n paar Saterdae gelede in Randburg getroud.

Beter Helfte is ‘n getroue aanhanger van Facebook. Dis nou daardie internet gedoente waarop jy 2 000 vriende het waarvan net een uiteindelik vir jou begrafnis opdaag. Ewenwel, ek gaan loer so dan en wan skelm op haar Facebookblad – darem met haar toestemming – net om seker te maak dat een of ander ryk Arabiese sjeik haar nie vir ISIS probeer werf nie. ISIS is nou daardie ekstreme organisasie wat regdenkende Moslems erg ongemaklik laat voel omdat wat hulle doen en predik, volgens wat ek in die gewoonlik onbetroubare persberigte lees, bitterlik ver verwyder is van wat in die Koran staan.

Toe Riaan in Monica se lewe verskyn, het sy dit luidkeels op Facebook uitgeblaker en kon mens die vordering van daardie liefde as’t ware van omhelsing tot omhelsing volg. Soos wat die liefde wortel geskiet het, het Monica se Facebook inskrywings dramaties verminder. Miskien was daar doodeenvoudig nie tyd daarvoor tussen al die hofmakery deur nie. Later was daar niks, behalwe ‘n geweeklag oor haar huis wat nie wou verkoop nie sodat sy na Riaan toe kon trek. Mettertyd die blye aankondiging dat hulle tot troue gaan kom en in Standerton sal vestig.

Die troue was toe ook ‘n blymoedige affêre met verskeie mense uit Potties wat ook daar was. Terloops, Piet Brits, van die vorige Spur, stuur groete aan al sy vriende en almal wat hom so getrou ondersteun het. Hy sê hy geniet sy aftrede in Pretoria.

Na die troue sit ek toe en wonder oor hoe mense hul gevoelens op Facebook ontbloot en ek kyk met ‘n ander oog na alles wat op Beter Helfte se blad “gepost” word. So kom ek toe agter dat daar ‘n verskil is tussen mense se werklike lewe en hul Facebook lewe – darem nie almal nie – maar ‘n groot gros daarvan.

Daar is die jong man (verloof) wat sy geliefde allerhande goetertjies toewens en met kleur en geur van hul eskapades vertel. Selfs ek bloos daarvan, want blykbaar besef hy nie dat wat hy daar skryf, deur almal op sy adreslys gelees word nie. Niemand het hom nog reggehelp nie – en Beter Helfte wil ook nie, want dis enige dag beter as Sarie se hygromanses. Op my vraag oor hoekom sy nie die paartjie vertel dat hul gevryery openbare besit is nie, antwoord sy dat ons twee ook eenkeer jonk was. Almiskie, maar ons het darem nie daaroor loop en spog nie!

Kyk wie al die lekker vetmaak en soet eetgoed resepte plaas en jy weet sommer dadelik wie op dieet is. So asof hulle diegende van swakker wilskrag net nog verder oor die badkamerskaal se afgrond wil laat duiwel.

Wanneer ek rugby op TV kyk, kyk ek rugby op TV – met miskien so nou en dan ‘n stukkie biltong of vloeibare verversing as versterking. Maar nee, nie die geharde Facebook aanhangers nie. As hul span, en hoekom dink ek spesifiek aan Leeu ondersteuners, punte aanteken, is daar binne sekondes ‘n Facebook inskrywing. Rugbykyk en Facebook gaan nou blykbaar hand aan hand. Waar gaan dit eindig? Sit ons binnekort met die multi-skilled en multi-talented man wat tegelykertyd ‘n baba se doek kan omruil, skelm met buurvrou oor die heining vry, sy motor kan diens, rugby kan kyk – en, o ja, sy span se vordering duikslag vir duikslag en aanslaan vir aanslaan op Facebook kan verkondig?

Dan is daar ook diegene wat op elke item kommentaar lewer. Verskyn daar ‘n foto van ‘n bruid, baba of kokketiel – of selfs van Godzilla – kwyl hulle 50 kommentare daaroor. Vra iemand vir hulp, is daar ‘n verder 150 kommentare wat daarop reageer. Nie om te help nie, maar net om te sê hulle kan nie, maar sou as hulle kon. Dit laat hulle miskien goed voel, maar help niks om die probleem op te los nie.

Die grootste frustrasie is egter diegene wat Facebook as hul persoonlik sendingveld misgebruik. Snaaks genoeg het ek nog geen dominee teëgekom wat dit daarvoor gebruik nie en daar is ‘n hele paar van hulle op Beter Helfte se Facebookblad. Maar sjoe, ons gewone mense is tog so lief vir al daardie soetsappige boodskappies oor godsdiens. Dan wonder ek dikwels hoe ernstig hulle dit self in hul eie lewens uitleef, of is dit maar net om skuldige gewetes te paai?

O, en dan kan ons tog so onnadenkend en bitsig reageer met die sterkste taal denkbaar – en dit afkomstig van dieselfde mense wat so flussies Facebook “sendingwerk” gepleeg het. Ek wag nou nog vir die jong man wat hom aan ‘n plaaslike monument wil gaan vasketting om te verhoed dat dit beskadig word. Lyk my egter die relletjie in die dorp oor die moorde op gemeenskapsleiers het die wind so ietwat uit sy seile gehaal. Maar ek kan nie help om te wonder wanneer laas hy, sonder iemand se aanmoediging, self by enige monument was nie.

Van die relletjie in die dorp gepraat – afhangende van wie se inskrywing mens lees, moet jy of jou staaldak opsit en ‘n loopgraaf by jou voordeur gaan grawe, of jy kan rustig met jou lewe aangaan sonder enige bekommernis. Mense, maak asseblief seker of die gerug of skinderstorie wat so gretig aangestuur word, darem net naastenby die waarheid kan wees. Goliat se skedel wat kwansuis onlangs in Israel ondek is, met foto daarby, is al in 1992 as bedrog uitgewys, maar steeds ry dit rondomtalie op Facebook.

En dan sou ek graag wou weet wat iemand in Potties wil bereik deur ‘n “post” aan te stuur van ‘n kind wat iewers in die VSA ontvoer is (of iewers anders in die wêreld).

Word die berig nie ordentlik gelees nie, of dink so ‘n persoon die VSA is die afkorting vir ‘n warmwaterbron op Naboomspruit?

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button