Local NewsNews

PIENKVOETJIES: Gabriella, krag van God

Stap jy in hulle huis in is jy dadelik bewus van Gabriella Els se teenwoordigheid, al is sy skaars 'n maand oud en vas aan die slaap.

POLOKWANE – Stap jy in hulle huis in is jy dadelik bewus van Gabriella Els se teenwoordigheid, al is sy skaars ‘n maand oud en vas aan die slaap.

Gabriella is Lara en Xabian Els se eersteling en haar naam beteken ‘Krag van God’ in Sweeds.

“Ons het heelwat name gehad waarvan ons moes kies. Gabriella was net vir ons die perfekte naam vir ons babadogter,” vertel Xabian trots.

Volgens Lara het sy ‘n maklike swangerskap gehad.

“Ek het regtig nie eers geweet ek is swanger nie. Ek het sowat vier keer oggendnaarheid beleef en dit was al.”

Lara het in Mankweng geboorte geskenk en vertel dat die natuurlike geboorte-ondervinding darem nie te erg was nie.

“Gabriella het 2,4kg geweeg en was 47cm lank. Dit was nie ‘n maklike geboorte nie, maar ook nie te sleg nie. Die hospitaal was skoon en die personeel vriendelik en bereid om te help,” vertel Lara.

Gabriella is volgens haar ouers ‘n baie maklike baba. Hulle lê haar neer en sy slaap.

Lara vertel sy word net elke twee en ‘n half uur wakker om te drink dan slaap sy weer. Xabian doen ook navorsing oor wat Lara mag of nie mag eet nie, sodat Gabriella gesond bly terwyl sy borsvoed.

Lara vertel sy het in kraam gegaan terwyl Xabian nie by die huis was nie en het heeltyd vir Gabriella gesê “wag tot pappa hier is”. Daarna was sy vir ses ure in kraam, “elke oomblik die moeite werd”.

“Ek wou in die eerste paar weke ‘n seuntjie gehad het, en al het ons eers gedink dit is ‘n seuntjie, was ek ek opgewonde toe ek hoor dis ‘n dogtertjie. Xabian wou egter van dag een af ‘n dogter hê,” vertel Lara.

“Ja ek wil eerste ‘n dogtertjie gehad het. Die tweede een kan ‘n seuntjie wees. Ek hoop daar sal ‘n tweede een wees,” vertel Xabian.

Lara vertel dat al verstaan sy Xabian wil graag die familienaam oordra, weet sy nie of sy binnekort gereed sal wees vir ‘n tweede swangerskap nie.

“Gabriella is ‘n maklike baba en stel geen eise nie, maar die geboorteproses is iets anders,” vertel sy.

Xabian vertel dat Gabriella nie net krag van bo is nie, maar ook ‘n geskenk van bo.

“Lara het van te vore ‘n miskraam gehad en eendag het sy ‘n fliek, The Rebound, gekyk waarna sy na my toe gekom het en gesê het sy raak nie jonger nie en sy wil graag ‘n baba hê.

“Ons het ons lewens omgeswaai en gebid daaroor en Lara het swanger geword,” vertel Xabian terwyl hy sy sy hand beskermend om Lara se skouers sit.

Lara vertel dat sy daarvan droom dat Gabriella eendag klavier sal kan speel en dalk sal sing.

Sy vertel dat sy self graag klavier sal wil speel en dat Xabian gereeld vir Gabriella aan die slaap sing.

Related Articles

Back to top button