NewsSchools

Osieteddies besoek hondesalon

Die kleuters van Osieteddies Kleinkind-ontwikkelingsentrum het verlede week meer oor troeteldiere geleer tydens ‘n spesiale uitstappie na die Woofels Hondesalon.

POLOKWANE – Troeteldiere is in baie Suid-Afrikaanse gesinne deel van die huishouding, maar nie almal is in die posisie om troeteldiere aan te hou nie.

Die kleuters van Osieteddies Kleinkind-ontwikkelingsentrum het verlede week meer oor troeteldiere geleer tydens ‘n spesiale uitstappie na die Woofels Hondesalon.
Elke klas het gedurende die week kans gekry om die hondesalon te besoek as deel van die Teddies se leertema vir die week, troeteldiere.
Verlede Vrydag was dit die Safaribere se beurt.
Jo-Ann en Rannie Wilson van die Woofels Hondesalon het die kleuters meer geleer oor troeteldiere en hoe om hulle te versorg.
Eers het die kleuters na die verskeidenheid visse wat by Woofels te koop is gekyk en daarna het hulle gaan kyk hoe die honde gebad, geskeer, uitgekam en drooggeblaas word.
Daarna het sake baie interessant geraak toe die kleuters na die yslike tarantula wat by Woofels woon, ontmoet het.
Meer as een kleuter het die veilige arms van ‘n volwassene opgesoek toe Jo-Ann die spinnekop uit sy terrarium gehaal het.
“Tannie ek is bang hy spring op my,” het Jennifer Olivier van die Safaribereklas grootoog gesê.
Nadat die tarantula veilig in sy slaapplek gebêre is, het een van die hoogtepunte van die besoek aangebreek: die kleuters het ‘n chinchilla ontmoet en kon aan hom vat.
Vir die kleuters het hierdie sysagte knaagdiertjie die snaakste gewoontes gehad en hulle het hul verstom oor dié diertjie se wasgewoontes.
“Tannie, hy bad dan met sand en nie met water nie,” het Jennifer uitgeroep.
Die kleuters het hulle uitstappie afgesluit met ‘n ontmoeting met ‘n luislang, maar min van hulle het van die geleentheid gebruik gemaak om aan die slang te vat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button