Local NewsNews

Janica leer kinders hoe om te kook

Vir baie mense is die tyd wat hulle saam met familie en vriende om die kospotte spandeer kosbaar.

POLOKWANE – Vir baie mense is die tyd wat hulle saam met familie en vriende om die kospotte spandeer kosbaar.
Janica Ehlers sê sy het besef dat daar ‘n mark in Polokwane is vir jong kinders om te leer kook. Só het die Little Cooks Club ontstaan.
Sy vertel dat die kooklesse vir kinders groot pret is vir haar en die kinders.
“Ek kom van Vivo af en woon sedert Augustus in Polokwane. In September was daar ‘n Baby and Toddler Expo in die stad waar ek uitgestal het. In November het ek demonstrasies by die skole gehou en in Januarie het ek my eerste klas aangebied.
“Daar was net nege kinders by daardie eerste klas, maar tans leer ek 90 kinders om te kook.”
Sy vertel verder dat sy die kinders laat kos maak wat ouderdomtoepaslik is.
“Ons het al hoender-sosaties gemaak waar hulle self die hoender en rooi-pepers moes sny, in die eier, wat hulle gebreek het, en daarna in die krummels moes rol. Dan moes hulle die stukkies  op ‘n sosatie-stokkie druk.
“Ook moes die ouer kinders al chicken cordon bleu maak,” verduidelik sy.
“Die kinders het dit vreeslik geniet. Hulle het so ewe die vleis geslaan met vleishammetjies.”
Janica vertel dat haar klasse ongeveer ‘n uur en 15 minute duur. Die eerste 30 minute is voorbereiding. Daarna, terwyl die kos in die oond gaar word, doen hulle sensoriese oefeninge soos waar op die tong jy sekere smake proe.
“Ek wil genoeg kinders in my klasse kry sodat ons op die ou einde aan die minderbevoorregte mense in die dorp kos kan gee.
“Ook wil ek die wat dit nie kan bekostig om my klasse by te woon nie, akkommodeer,” sê sy.
“Met registrasie kry elke jong kok ‘n voorskoot wat hy of sy dan moet dra gedurende die klas.
“Ook is ouers en selfs oumas baie welkom om die klas saam met hulle kinders by te woon.
“Die kinders en ouers bou aan hul verhouding oor die kospotte. Ek en die ouers leer ook baie. Ek lê ‘n groot klem op veiligheid en gee nie vir die kinders toerusting om te gebruik as hulle nie oud genoeg is om dit te kan gebruik nie.”
Die kinders kan aan al die bestanddele proe of voel en Janica vertel dat sy ‘n seuntjie in haar klas het wat eers niks wou weet van proe nie, maar later tog begin het om te proe en nou aan alles proe.
“Ek leer die kinders dat kosmaak ‘n passie is.
“Om te sien hoe trots hulle op hulle werk is, is vir my die lekkerste.”

(FOTO’S)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button