Local NewsNewsUpdate

Kim Robbertse stel prokureurs vir hofsaak aan

Die vrou wat beskuldig word daarvan dat sy mense se Kersfeeste gesteel het, word deur die polisie ondersoek.

POLOKWANE – Die vrou wat beskuldig word daarvan dat sy mense se Kersfeeste gesteel het, word deur die polisie ondersoek.

Review het in Januarie berig oor Kim Robbertse wat na bewering vliegkaartjies wat nie bestaan het nie aan mense verkoop het.

By verdere navrae Maandag het Andries Rheeder van Rheeder Prokureurs in ‘n mediavrystelling bevestig dat hy Robbertse se regsverteenwoordiger is.

“Ons verteenwoordig tans vir Kim Robbertse in ‘n ondersoek ten opsigte van klagtes van vliegkaartjies wat bespreek en betaal is, maar nooit ontvang is deur die kliënte nie.

“Die probleem het ontstaan toe ons kliënt se besigheids-bankrekening gevries is en geen verdere transaksies kon plaasvind nie. Daar kon tot op datum nog nie vasgestel word wat die rede is agter die vries van die bankrekening nie. Daar is egter ‘n moontlikheid dat daar ‘n derde party betrokke was en ongerymdhede op die rekening geïdentifiseer is.

“Dit het daartoe gelei dat vliegkaartjies se besprekings nie gefinaliseer kon word nie,” het Rheeder in die vrystelling gesê.

“In die lig van bogenoemde probleme en die feit dat daar moontlik ongerymdhede op die bankrekening plaasgevind het, is verskeie klagtes tans aanhangig gemaak teen die kliënt by die polisie.”

Volgens Rheeder was kapt. Gerhard Otto van die speurafdeling by die Polokwane-polisiestasie besig met die ondersoek.

Otto kan gekontak word by (015) 290 6464, of navrae kan per e-pos gestuur work aan OttoGerhard@saps.gov.za.

“Alle persone wat ‘n vliegkaartjie bespreek het en dit nie ontvang het nie kan hom kontak.

“Die besonderhede van die transaksie kan aan hom deurgegee word. As daar klagtes is wat aanhangig gemaak moet word, kan die klagtes voor of op 16 Maart aangemeld word by Otto.”

“Ons is besig om ons samewerking op alle vlakke te verleen aan die ondersoek om spoedig die probleem die hoof te bied.”

Rheeder het gevra dat geen klagtes na hom verwys moet word nie aangesien hy slegs die klaers kon terugverwys na die polisie.

Robbertse sal op 25 Maart in die Polokwane-streekshof verskyn.

The local who stole families’ Christmas

Related Articles

Back to top button