Local News

VF+-leier Marcelle Maritz se dood ruk gemeenskap

Maritz sal veral onthou word vir hoe sy die voortou ná plaasaanvalle geneem het om families by te staan.

MOKOPANE – Dit was met groot skok dat die gemeenskap verneem het van Marcelle Maritz (59), LPW van die Vryheidsfront Plus in Limpopo, wat Vrydagaand na ‘n beroerte tuis oorlede is.

Talle boodskappe van medelye en huldeblyke het sedert verlede week ingestroom.

Maritz sal veral onthou word vir hoe sy die voortou ná plaasaanvalle geneem het om families by te staan.

Dr. Pieter Groenewald, die leier van die party en ook Minister van Korrektiewe Dienste, het haar afsterwe in ‘n persverklaring betreur.

“Die VF Plus het met skok en leedwese verneem van die skielike afsterwe van Maritz, die party se provinsiale leier en LPW. Sy was wyd bekend in Limpopo en haar afsterwe is nie net ‘n verlies vir haar geliefdes en familie nie, maar ook vir die VF Plus en haar gemeenskap wat sy onbaatsugtig en met groot ywer gedien het.”

Hy het bygevoeg dat Maritz ‘n hardwerkende leier was.

“Die boeregemeenskap het haar veral na aan die hart gelê en daar was bykans nie ‘n enkele plaasmoord of -aanval in Limpopo waar sy nie die slagoffers of hul naasbestaandes besoek het nie. Net so het sy met groot ywer en deernis hospitale besoek en het groot meegevoel getoon vir mens en dier wat in nood en lyding verkeer het.”

Hy sê dat Maritz onthou sal word as iemand wat waarlik in diens van haar gemeenskap gestaan het.

“As leier van die VF Plus wil ek persoonlik ook my medelye aan haar geliefdes en familie oordra en hulle sterkte toewens. Mag hulle vertroosting vind in ons Hemelse Vader.”

Wouter Wessels, die nasionale woordvoerder van die VF Plus sê dat sedert Maritz in 2013 by die party aangesluit het, het sy onbaatsugtig en met groot ywer haar kant gebring.

“Sy was ‘n ywerige, harde werker met passie vir diere en mense en het met etiek alles aangepak. Ons gaan en sal voortgaan met die goeie werk wat sy gedoen het ter nagedagtenis aan haar. Die plaaslike verteenwoordigers het reeds die taak aangevat om haar skoene vol te staan en kan ek die gemeenskap verseker Marcelle se herinneringe en haar werk sal voortleef.”

Marietie Louw-Carstens, senior joernalis vir Beeld en Netwerk24 in Limpopo het Maritz langer as 20 jaar geken.

“Marcelle Maritz was vreesloos en onverskrokke, maar het ook ‘n klein sagte hart gehad. Sy het mense in nood altyd gehelp en ‘n groot rol gespeel in die ontbloting van korrupsie in die Mogalakwena Munisipaliteit in Mokopane. Die gemeenskap van Mahwelereng, buite Mokopane, het daarvoor groot respek vir haar gehad. Sy was ‘n vurige kampvegter teen plaasaanvalle- en moorde en het haar beywer om veiligheid op plase te bevorder. Marcelle se skielike afsterwe laat ‘n reuse leemte in Limpopo,” het Louw-Carstens gesê.

Maritz se beste vriendin, Mariette Roos, wat namens die familie gepraat het, sê dat Maritz in Mokopane gebore en getoë is. Sy het aan die Hoër Landbouskool Kuschke gematrikuleer en as ‘n tandartsassistent en later as geregsbode gewerk en toe die politiek betree het.

“Mense besef nie hoeveel mense sy aangeraak het nie. Sy het die ekstra myl vir die armes geloop en veral ou mense en motorwagte finansieel ondersteun. Haar dood gaan ‘n groot leemte laat want almal het na haar opgekyk en haar regverdige en reguit optrede waardeer, het Roos gesê.

Maritz se roudiens het vanmiddag op die rugbyveld van Hoërskool Piet Potgieter plaagevind.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button