EntertainmentLifestyle

Klein buksie bied baie ruimte en gemak

SUZUKI se nuwe Celerio, wat vandeesmaand die gewilde Alto-miniluikrugmotor in Suid-Afrika vervang

SUZUKI se nuwe Celerio, wat vandeesmaand die gewilde Alto-miniluikrugmotor in Suid-Afrika vervang, is daarop gemik om aan kopers van klein motors ‘n grootmoedige en genotvolle motorervaring te bied.

Dié nuweling bewys dat klein nie noodwendig beknop hoef te wees nie en dat styl en ruimte nie ‘n fortuin hoef te kos nie.

Die Celerio, wat spesifiek vir wêreldmarkte ontwikkel is weerspieël Suzuki se ongeëwenaarde vernuf as ‘n vervaardiger van kompakte motors en sportnutsvoertuie. Die nuweling koppel die gebruiksvriendelike afmetings en ratse padgedrag van ‘n klein luikrug met ‘n verbasend ruim kajuit en ‘n yslike kattebak.

Terselfdertyd sorg die Celerio se doeltreffende aandryfstelsel vir wakker verrigting en suinige brandstofverbruik. Lae CO2-uitlaatgasvlakke beteken dat die Celerio boonop omgewingsvriendelik is.

Die Celerio se doeltreffende verpakking gaan met moderne, aantreklike stilering gepaard. ‘n Verchroomde sierrooster met breë, horisontale stawe oorheers die voorkant, terwyl groot kopligsamestellings ook tot die motor se treffende vooraansig bydra.

Nog ‘n kenmerk van die nuwe Celerio is die KB10B-driesilinderenjin. Die 1,0-liter kragbron koppel volop krag aan puik doeltreffendheid, wat rats verrigting en uitstekende brandstofverbruik tot gevolg het. Maksimum kraglewering beloop 50kW teen 6 000rpm, met ‘n gepaardgaande wringkragpiek van 90Nm teen 3 500rpm.

Van besondere belang is die Celerio se suinige brandstofverbruik. Dié Suzuki verbruik slegs 4,6 liter per 100km in die gekombineerde siklus, met ‘n gepaardgaande CO2-uitlaatgasvlak van net 108g per km, wat beteken dat die Celerio nie aan uitlaatgasbelasting onderhewig is nie. Die nuweling kan boonop ‘n reiksafstand van meer as 750km met ‘n enkele tenk brandstof van 35 liter haal.

Die Celerio is die eerste Suzuki-model wat met ‘n nuwe geoutomatiseerde handratkas toegerus is. Die ratkas word sonder ‘n koppelaar bedryf, en ly ook nie aan die energieverliese wat met ‘n gewone, koppelomsitter-toegeruste outomatiese ratkas gepaardgaan nie. ‘n Vyfgang-handratkas is standaard. Die Celerio kan egter ook met ‘n sogenaamde geoutomatiseerde handratkas bestel word.

Die Celerio se praktiese kenmerke en doeltreffendheid gaan gepaard met ‘n hoë vlak van aktiewe en passiewe veiligheid:

• ABS-sluitweerremme.

• Dubbele SRS-lugsakke voor.

• Rukstopgordels.

• Peuterbestande kinderslotte vir die agterdeure.

• Hooggemonteerde derde remlig as standaardtoerusting.

Die Celerio se staalwiele van 14 duim is met volgrootte wieldoppe toegerus, terwyl allooiwiele van 14 duim opsioneel beskikbaar is. In albei gevalle is die bandgrootte 165/70 R14.

Die simmetriese proporsies van die instrumentepaneel bied ‘n gebruiksvriendelike oorsig van die instrumente, kontroles en skakelaars. Die hoofinstrumente is direk voor die bestuurder geplaas, met bykomende instrumente in die middelste gedeelte.

‘n Driespeek-stuurwiel wat in die GL-model met kontroles toegerus en ook kantelverstelbaar is, omraam die instrumentehuls, terwyl die ratkierie hoër geplaas is om binne maklike bereik te wees. Die lang lys bêreplekke in die Celerio se binneruim is verdere bewys van hoe prakties die motortjie is.

Daar is:

• ‘n Oopvou-paneelkissie.

• ‘n Diep bêrekassie aan die bestuur-derkant.

• ‘n Rakkie aan die onderpunt van die middelkonsole.

• Deurvakkies en bekerhouers voor en agter.

Die nuwe Celerio-reeks bestaan uit drie modelle wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is. Al drie weergawes word deur dieselfde driesilinderenjin van 1,0 liter aangedryf, maar daar is twee ratkaskeuses, asook twee spesifikasievlakke naamlik GA en GL.

Die meer bekostigbare GA-model is net met die gewone vyfgang-handratkas beskikbaar, maar die effens duurder GL-weergawe kan met die gewone ratkas of ‘n geoutomatiseerde handratkas bestel word.

Elektries-beheerde kragstuur is eweneens standaard, tesame met handverstelbare lugreëling wat met ‘n stuifmeelfilter toegerus is.

Die Suzuki Celerio word deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km gedek. Daarbenewens sluit die prys van die GL-weergawes ‘n diensplan van twee jaar of 30 000km in. Die diensinterval is 15 000km.

Pryse:

• 1.0i GA MT – R109 900.

• 1.0i GA MT (met alooiwiele) – R112 900.

• 1.0i GL MT – R124 900.

• 1.0i GL MT – R127 900.

• 1.0i GL A – R135 900.

• 1.0i GL A – R138 900.

Related Articles

Back to top button