Local News

PHS-Toneelfreaks pronk op verhoog

Vanjaar kan die PHS kultuurspan met nie minder as 100 toekennings, wat hulle by verskillende toneelfeeste ontvang het, spog.

POLOKWANE – By Hoërskool Pietersburg word daar nie net tyd in die klas of op die sportveld deurgebring nie, maar ook op en agter die verhoog.

Vanjaar kan die kultuurspan, ook bekend as die Toneelfreaks, met nie minder as 100 toekennings, wat hulle by verskillende toneelfeeste ontvang het, spog.

Met Marli Oosthuizen aan die stuur het die drie toneelgroepe aan optredes by die FAK Allegretto Toneelfees, die Aardklop Pronk Podium Toneelfees en die ATKV Tienertoneelfees deelgeneem.

Sy erken sy was effe verbaas en oneindig dankbaar en trots op die span aangesien die helfte van hulle ‘n dag voor hulle op toer sou vertrek, siek was en sommiges skoon stemloos.

Komedie is Marli se forté en sy sê dit is vir haar die grootste uitdaging en eer as sy mense kan laat lag.

“Die wêreld is reeds swaar genoeg, as ons dit bietjie ligter kan maak, waarom nie?”

Schoemansdal is deur Marli geskryf en die regie is deur Alexa Schempers, Annika Harmse en Colin Fouchè behartig.

Die stuk gaan oor ‘n groep meisies van ‘n spogskool wat op ‘n uitstappie gaan waar dinge verkeerd loop.

Marli het ook Salomé geskryf en saam met Alexa en Annika die regie hanteer.

Dié stuk het goud ontvang vir ensemble en twee silwer toekennings vir die produksie in geheel. Dit is ook aangewys as beste komedie by die FAK Allegretto toneelfees.

Micke Theron was in die hoofrol en het ‘n toekenning vir die beste aktrise in ‘n komiese hoofrol ontvang.

“Salomé se storie is een aand laat op die N1 noord, ná toneel in Springs, gebore. Ek en Alexa het na Die Briels geluister om die kinders in die kar te irriteer. Ek dink dis maar hoe meeste inspirasie kom, soos ‘n skobbejak in die na-nag.”

Die toneelstuk My Ouma se Sussie se Kleinkind se Groottante se Begrafnis is deur Marli geskryf en sy het alleen die regie hanteer.

Die stuk handel oor ‘n gewone, Afrikanerbegrafnis, vol rusie, skandes en verveelde kinders.

My Ouma se Sussie se Kleinkind se Groottante se Begrafnis behaal twee silwer toekennings vir ensemblespel en drie silwer toekennings vir die produksie in geheel.

Dit is ook aangewys as die tweede beste komedie by die FAK Allegretto Toneelfees.

Om ‘n toneelstuk te skryf is vir Marli ‘n “work-in-progress”, vertel sy.

“Ek glo vas skryf is herskryf. Van die arme akteurs het twee dae voor ons optrede nuwe woorde gekry om te leer.”

Marli en Alexa ontvang twee silwer toekennings vir regie en Marli ontvang ‘n verdere drie silwer toekennings vir teks.

“Ons het ‘n ongelooflike span. Alexa maak dekor reg sekondes voor die gordyn lig en was kostuums in wasbakke en is net daar. Die kinders is net so ongelooflik, 20 uit die 25 in die geselskap het nog nooit vantevore toneel gedoen nie, en kyk net hoe goed is hulle.”

‘n Droom van die span is om by die Woordfees in Stellenbosch deel te neem.

“Stellenbosch is die mooiste, Bohemia is die lekkerste en om elke hoek en draai loop jy vir Sandra Prinsloo raak,” vertel sy.

Die verhoogbestuurders, Liné Schlesinger, Kara Swanepoel en Lezé Buitendach ontvang tussen hulle een goud, vier silwer en 4 brons toekennings.

Die tegniese span, Janika Helm en Dalize Barnard ontvang altesaam vyf goue, agt silwer en vier brons toekennings.

Die volgende akteurs ontvang spesiale toekennings vir spel:
• Landi Schütte: Drie goud, een silwer en een brons.
• Micke Theron: Een goud en een silwer.
• Amoré Duvenhage: Drie silwer.
• Joné Potgieter: Twee silwer.
• Anke Schulenburg: Twee silwer en een brons.
• Shani Potgieter: Een silwer en twee brons.
• Ziné Ferns: Drie brons.
• Mia Alberts: Twee brons.
• Zarich Lourens: Een brons.
• Nicky Faul: Een brons.
• Heinrich Schunke: Een brons.
• Elanza Oosthuizen: Een brons.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button