Local sport

Osies hokkiefeesvure brand hoog

Beide Oosskool se eerste seuns- en meisieshokkiespanne het Saterdag dié kampioenebeker gelig na twee dae van harde hokkie.

POLOKWANE – ‘n Volle dekade van Super 12-hokkiesukses, beteken beslis ‘n groot fanfare vir jou skool – en dit is presies hoekom die Oosskool hokkiefeesvure hoog brand hierdie week.

Beide Oosskool se eerste seuns- en meisieshokkiespanne het Saterdag dié kampioenebeker gelig na twee dae van harde hokkie by Tuks se hoëverrigtingsportsentrum.

Die seuns het in die eindstryd teen Laerskool Middelburg te staan gekom en met 1-0 gewen, terwyl die meisies hul stryd teen Laerskool Tzaneen ook met 1-0 gewen het.

Die skool word as algehele wenners van die toernooi aangewys. Dit is ook die 10de jaar dat Oosskool aangewys word as die algehele wenners van die toernooi.

Die meisiespanafrigters, Izelke Snyman en Izelle Delport, is baie bly oor die meisies se goeie sportmangees. “Harde werk, baie opofferings, ouers se ondersteuning en goeie hokkiegees het ons hierdeur gedra,” het Delport opgemerk.

Adri Lambrecht en Wian Kruger is die seuns se afrigters en hulle is ewe trots.

“Die seuns het ons nie net gewys dat hulle die vaardighede wat ons hulle geleer het toe gepas het nie, maar hulle het karakter op en af van die veld getoon. Nederigheid kom nooit tot ‘n val nie was ons leuse vir Super 12 en hulle het dit uitgeleef,” sê Lambrechts.

Die skool se tweede seunspan het ook op uitnodiging aan die toernooi deelgeneem, en besondere ondervinding opgedoen.

Die seunshokkiespan saam met die borg, Pierre van Dyk, skoolhoof, Gideon Pelzer, beheerligaamlede, André Visser en Jurgens Bergh and die afrigters, Wian Kruger en Adri Lambrechts.

Oosskool het verlede week in die oploop tot die Super 12-byeenkoms hulle eerstespanklereseremonie tydens ‘n spoggeleentheid gehou.

Die borg vir die eerste seuns- en meisiespanne is Limpopo Toyota.

Spesiale gaste by die geleentheid het ingesluit Pierre van Dyk (Limpopo Toyota handelaarshoof), André Visser (beheerliggaam) en Jurgens Bergh (beheerliggaam). Die hokkiespelers se ouers was ook teenwoordig om saam met hulle kinders die spesiale oomblik te geniet.

Skoolhoof Gideon Pelzer het die voorreg gehad om ‘n motiveringstoespraak te lewer en het met drie video’s sy boodskap oorgedra.

“Motivering is iets wat geleidelik gebeur sodat jy dit heeltyd kan onthou. Die eerste videogreep is uit die film Invictus. Dit gaan oor William Ernest Henley se gedig Invictus. Die woorde ‘I am the master of my fate, I am the captain of my soul’ staan uit. Die boodskap is dat die omstandighede nie die uitslag bepaal nie, dit is jy.”

Lees meer: Oorwinning soet vir hokkie-Osies in Super 12

In die tweede videogreep word dit duidelik gemaak dat die regte ingesteldheid enige uitdaging kan oorkom.

“Jy hoef nie aan te gaan nie, maar wel die laaste wees om aan te hou. Jy moet bereid wees om ekstra in te sit. In die videogreep hou die jonger man, wat die helfte jonger is as die gestremde man, op om te hardloop terwyl die gestremde man deurdruk. Die enigste gestremdheid is ‘n slegte houding.”

Die derde video speel in die natuur af waar ‘n trop wilde honde in ‘n span saamwerk om ‘n blouwildebees te vang. Die wildehonde maak gedurig planne tot hulle die blouwildebees vang.

“In ‘n span is jy sterker as wanneer jy ‘n individu is. Maak nie saak wie jy is, en hoe goed jy is nie, jy kan nie sukses sonder jou span behaal nie. Jy het jou span nodig.”

Pelzer sluit af deur ‘n laaste boodskap aan die leerders.

“Jy is die meester van jou eie toekoms, werk hard vir dit wat jy wil bereik. Harde werk klop talent enige dag. Die ou wat bereid is om te werk, vaar beter die ander ou, dit is belangrik om nooit moet op te gee nie.”

Hy het die spelers ook daaraan herinner om nie toe te laat dat ‘n slegte houding hulle grootste struikelblok word nie.

“Slegte dinge gaan gebeur, mense maak foute, dit is hoe jy daarop gaan reageer wat saak maak. Moed op gee is nie ‘n opsie nie, hou net langer as jou opponent uit.”

Oor spanwerk sê Pelzer die belangrikste les lê in die krag van die span.

“Jy het elke speler in die span nodig, elkeen het ‘n werk wat hy moet verrig. Saam is gelyk aan sukses, alleen is gelyk aan mislukking.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button