Local News

‘Vir die kinders’ – dr. Hattingh stop in Mokopane

dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa het 310km op ‘n trekker as deel van ‘n wêreldrekordpoging afgelê het strek oor 3 500km.

MOKOPANE – Inwoners het in groot afwagting na die pad bly staar Maandagmiddag, totdat dr. André Hattingh van Pediatric Care Africa, nadat hy 310km op ‘n trekker as deel van ‘n wêreldrekordpoging afgelê het, die dorp binnegery het. Toé is daar behoorlik bontgestaan vir foto’s en geselsies met die man van die On-trac-tor-veldtog, alles ten bate van die mediese versorging van kinders.

Dié poging tot ‘n wêreldrekord strek oor 3 500km, en hy het Sondag uit Nelspruit vertrek. Die span beoog om R500 000 met hul poging in te samel, wat slegs twee operasies behels.

In 1994 het Hattingh gekwalifiseer as ‘n neurosjirurg.

Hy vertel hoe sy tyd in Rwanda ten tyde van die volksmoord hom geraak het.

“Daar was niemand wat aandag en hulp aan die kinders verleen het nie. Dit het my hart diep getref. Daar was ongeveer 36 000 kinders doodgemaak in daardie tyd. Vir elke kind wat doodgemaak is, was daar sewe wat ernstig beseer was.”

Net daar het hy die belofte afgelê om eendag, sou dit hom beskore wees, alles in sy vermoë doen om kinders te help.

“Dis waar die gedagte van Pediatric Care Afrika ontstaan het. Deur my loopbaan het ek geleer van organisasies sonder winsbejag en hoe dit hanteer en bedryf moet word, en in 2016 het ek die leisels oorgegee en voltyds, met my vrou se ondersteuning, my fokus geplaas op die behandeling van kinders.”

Dié organisasie het al sowat 9 000 kinders gehelp met gratis behandeling tydens mediese uitreikaksies, en sowat 150 kinders het gratis operasies ontvang, vertel hy.

“Sowat 511 000kg kos is al afgelewer, so 8 000 blikke babamelk en 9 100 pakke babapap is ook al deur die organisasie versprei. Omdat Pediatric Care Africa ‘n nie-winsgewende organisasie is hou die span allerhande fondsinsamelingsveldtogte. Die trekkerrit word ingespan vir kinders wat duur operasies moet ondergaan, om die mense bewus te maak van die hoeveelheid kinders wat jaarliks vermoor word in Suid-Afrika en dan ook om die buiteland se fokus te plaas op plaasmoorde.”

Hy sê dat in die eerste bewusmakingsjaar daar nie regtig reaksie van die buiteland af oor die plaasmoorde was nie, maar dat lande soos Australië en Holland nou saam span om die fokus op plaasmoorde te sit en daar word ook nou gereeld in die koerante, tydskrifte en radio’s daaroor gepraat.

“Vanjaar het ek besluit dat, terwyl ek nou soveel kilos op die trekker sit, dat ek sommer ‘n wêreldrekord opstel. Die reëls sê dat ek geen bystand langs die pad mag kry nie, ek ry alleen, ek mag ook nie hulp langs die pad vra nie, ook nie vir navigasie nie, en dan word ek gemonitor met ‘n satelliet.”

Hy voeg tong-in-die-kies by: “Dis net ek en die trekker.

“Daar is geen musiek wat my ore en gedagtes kan vul nie en om die waarheid te sê, ek sal myself bang sing.”

Die ontvangs wat hy langs die pad gekry het, spoor hom aan om die kilometers met oorgawe aan te pak, vertel Hattingh.

“Mense waai vir jou, ander druk toeter en gee pad dat jy kan verbykom en sommige boere staan by hul lyndrade en moedig jou aan. Dit laat ‘n mens se hart so lekker voel en dit is ‘n ongelooflike aansporing om die kilometers af te lê.”

Hy bedank elkeen wat hy op pad teëgekom het.

“Baie dankie aan elkeen wat ons ondersteun, sonder die mense se hulp is ons slegs ‘n webtuiste.”

Hy rig ook ‘n versoek aan plaaslike dokters om hom te kontak, sodat hy deur hulle verwysing ook vir ander kan bystaan.

“Kinders is my passie, en om kinders te help is ‘n riem onder die hart.”

Sy veldtog strek oor ses provinsies, alles binne 21 dae, met die laaste eindpunt weer terug in Nelspruit op 11 Augustus.

Hy bring tussen nege en 13 ure daagliks op die pad deur, teen ‘n gemiddelde spoed van 26 kilometer per uur.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button