Local News

Tannie Anna vier 101 lewensjare

Tannie Anna Smit vertel sy is op 'n plaas in Heidelberg gebore en is die naasoudste van ses kinders.

POLOKWANE – Kween, oftewel Tannie Anna Smit, sit doodstil terwyl Karien Potgieter haar hare was en blaas.

“Nie so kort nie hoor,” maan sy haar jarelange haarkapper.

Tannie Anna se hande en voete is die vorige dag deur Esmé Botha gepamperlang, en nou is sy reg vir haar groot dag.

Dit is 5 Maart en Tannie Anna is op pad om te gaan feesvier.

‘n Groep van haar vriende en familie kom by The Ranch Resort bymekaar, gereed om fees te vier. Dit is immers nie aldag wat iemand 101 kersies kan uitblaas nie. Hier geniet Tannie Anna haar gunsteling-gunsteling, ‘n sjokolade melkskommel.

Tannie Anne Smit saam met haar dogter, Annatjie Joubert en dié se lewensmaat Danie van Niekerk.

Tannie Anna vertel sy is op ‘n plaas in Heidelberg gebore en is die naasoudste van ses kinders. Later het die gesin Benoni toe verhuis waar sy op skool was.

“Ek het skool gegaan tot op die destydse standerd 6, wat hulle nou gr. 8 noem. Daarna is ek na ‘n tegniese kollege toe waar ek geleer het hoe om naaldwerk te doen.”

Dit was nie lank nie of Tannie Anna was ‘n kenner op haar gebied en het selfs trourokke en pakke gemaak.

Op 17 trou sy met James Geere en teen die tyd dat die eerste van haar drie kinders gebore is, word sy ‘n tuisblyma.

Na James se dood in 1969 het sy weer begin werk, tot sy 75 jaar oud was.

Teen die tyd dat sy haar 92ste verjaarsdag gevier het, moes sy haar motor se sleutels finaal neersit.

“Dit was baie erg. Ek het my eie ding gedoen en self dorp toe gery. Baie jare na James se dood het ek vir Jannie Smit ontmoet en toe is ons getroud. Na sy dood het ek alleen gebly tot op 96 en van daar af woon ek by my dogter, Annatjie Joubert.”

Kween neem medikasie slegs vir demensie, en ‘n paar vitamins, Sy sê sy is geseënd met haar gesondheid.

Volgens haar familie is sy wel die laaste paar maande baie stiller, maar steeds skerp met haar sêgoed, “Ek eet nie vleis in die aand nie, want dan droom ek te veel”.

Op die vraag oor wanneer laas sy gedroom het, antwoord sy dan, “die aand to ek vleis geëet het”.

Haar brein is nog skerp en sy antwoord vinnig op die vraag van wat sewe-maal-sewe is, dat die antwoord 49 is.

Veels geluk, en baie seen, Tannie Anna.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button