Local News

Dokterdrome het dié oud-Pietie

Lèsia Els kyk terug op haar jare by Oosskool en PHS, en vertel hoe haar drome oor geneeskunde vlerke gekry het.

POLOKWANE – Met die stof van die matriekuitslae wat gaan lê het en matrikulante wat die nuwe fase in hulle lewe betree, onthou Lèsia Els haar tyd op skool.

Hierdie oud-Pietie het haar skoolloopbaan by Oosskool begin en, in haar eie woorde, by die beste hoërskool, Hoërskool Pietersburg, voltooi.

“By PHS reik die personeel en leerders na die sterre. Ek het wiskunde, wat my gunsteling vak is, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, rekeningkunde en gevorderde wiskunde as vakke gehad. Die rede hiervoor was dat dié vakke vereis word vir die rigting waarin ek wou studeer en dit laat ook beweegruimte vir ander beroepskeuses.”
In gr. 8 wou Lèsia baie graag ‘n wiskundeonderwyser of verpleegster word.

Nou, vier jaar later, beplan sy om vir MBChB-graad in geneeskunde en chirurgie te studeer, en sy sal graag daarna in kardiologie wil spesialiseer.

“Geneeskunde is iets wat my baie na aan die hart lê en ek sal graag mense wil dien deur Jesus se hande en voete hier op aarde te wees. Die kursus is ‘n sewejaarkursus en ek gaan by die Universiteit van Limpopo studeer.”

Van gr. 9 tot gr. 11 het Lèsia netbal gespeel en sy het ook aan spanredenaars en debat deelgeneem.

“Om akademie, sosiaal en sport te balanseer, het ek my ekstra klasse en buitemuurse aktiwiteite voltooi en dan tot laat in die aand, en soggens my akademiese verpligtinge nagekom. Sosialisering het ek beperk tot naweke of soos ek tyd kon inruim. Ek het twee weke voor die eindeksamenbegin het, begin voorberei. Vorige jare was ‘n dag voor die tyd se voorbereiding vir my voldoende, maar gr. 12 se werk is net te veel.”

Lèsia se raad aan ander is om deeglike beplanning te doen en nie alles tot die aand voor die tyd te los nie. “Werk ou vraestelle uit en leer hard. Jy is tot alles in staat, dit kos net ‘n bietjie werk.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button