Local News

Pienaarmoord: Verdagte hoor dán oor borg

Die staat het die borgaansoek teengestaan, en gesê die beskuldigde is voortvlugtend en sal boonop met getuienis en bewyse in die saak inmeng.

LIMPOPO – ‘n Verhoordatum is uiteindelik, na byna 14 maande vasgestel in die saak van die vermoorde prokureur van Mokopane, Schalk Pienaar.

Bosveld het voorheen berig dat Pienaar op 19 September 2022 in die oprit na sy huis koelbloedig doodgeskiet is.

Tsholofelo Joseph Motsoane is ‘n maand later aangekeer, in hegtenis geneem en van moord, sameswering tot moord en ander vuurwapenverwante aanklagtes, aangekla.

Volgens bronne het hy ook die ontsnappingsvoertuig bestuur.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid wat die Pienaar-gesin verteenwoordig, het in ‘n verklaring bevestig dat die gesin die eenheid genader het ná daar talle vertragings was in die hantering van die saak.

Motsoane het op 16 Januarie en weer op 23 Januarie in die Mokopane-landdroshof verskyn om aansoek om borgtog te doen. Ontstellende besonderhede oor die Motsoane se misdaadgeskiedenis is aan die hof voorgehou.

Die staat het aan die hof gesê dat Motsoane se misdaadrekord terugstrek tot 2003, toe hy skuldig bevind en vonnisse uitgedien het vir afsonderlike sake van poging tot moord, roof en diefstal. Hy sou later uit aanhouding ontsnap terwyl hy verhoorafwagtend was vir twee van dié sake, en is later ook hierop skuldig bevind.

Die staat het gemeen dat Motsoane voortvlugtend is en met bewyse en getuies sou inmeng sou borgtog toegestaan word.

Die ondersoekbeampte, kapt. Ross Rossouw, het in ‘n beëdigde verklaring wat in die hofrekord ingelees is, gesê dat die drie ander verdagtes nog nie opgespoor is nie en die moordwapen ook nie gevind is nie. Die staat hou egter vol dat Motsoane ‘n bekentenis oor Pienaar se moord afgelê het, en dat hulle in besit is van ‘n verklaring van ‘n getuie wat Motsoane met die beplanning van die moord verbind. Boonop plaas ‘n ooggetuie Motsoane se motor op die toneel van die moord.

Motsoane het die hof versoek om op borgtog vrygelaat te word weens sy swak gesondheid en gesê dat hy weens ‘n gebreekte been nie in staat is om sonder krukke te loop nie.

Die hof sal op Vrydag, 2 Februarie uitspraak in die borgtogaansoek lewer.

Die verhoordatum is vasgestel vir 22-26 Julie in die Hooggeregshof in Polokwane.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button