Local sport

Jong Caslien ontvang ruiter van die jaar-titel

Caslien beoog om in die toekoms haar tye te bly verbeter, en sy wil graag opgeneem word in die Limpopo Federasiespan.

POLOKWANE – Caslien Strydom (13) ry reeds perd vandat sy 18 maande oud is en is so tuis soos ‘n vis in die water op haar perd se rug.

Sy is onlangs aangewys as die vlak 2 laerskole beste ruiter van die jaar en Sanesa ruiter van die jaar by die Sanesa en SAWMGA se prysuitdelingsfunksies.

Sy ontvang ook trofeë vir ‘n jaar se deelname met twee perde en deelname aan die nasionale kampioenskappe in Parys.

“Ek het my eerste perd, Goudhoek Umfaan, in 2020 gekry en het na die grendeltydperk, toe ons weer kon meeding, kompeterend begin ry. Ek het intussen nog ‘n perd gekry. Sy naam is Enduro Sangria en dan ry ek ook op my ma se perd, Blue Steel.”

In Caslien se eerste kompetisie in 2021 het sy ‘n tweede plek behaal in figure 8 flags. Tydens die nasionale kampioenskappe het sy beter as ooit tevore gevaar.

“Ek neem deel aan die South African Western Mounted Games en my gunsteling aktiwiteit is die Barrel Race. Ek het by die nasionale kampioenskappe ‘n vlak vier tyd gery. My tyd was 21sek en ek’t ‘n eerste plek behaal.”

Caslien erken die keyhole, speedball en figure 8 flags is die moeilikste items. “My perd hou nie van die keyhole se lyne nie en ek sukkel om die kegel by speedball raak te korrel. Verder verloor my perd sy kop as die flaggies wapper,” skerts sy.

In Januarie begin Caslien met haar gr. 7 jaar by Pietersburg Laerskool waar sy onlangs as onderhoofmeisie aangewys is.

Sy beoog om in die toekoms haar tye te bly verbeter, en sy wil graag opgeneem word in die Limpopo Federasiespan.

As onderhoofmeisie beplan sy om leerders te help waar dit nodig is, en by te staan as dit nodig is.

In haar vrye tyd speel sy graag met die familie se honde, Wollie, Jagter en Lummel of sy kyk TV.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button