Local News

Kop-aan-kop botsing eis Mev. Limpopo

Irma Kidson (53) was baie betrokke in die gemeenskap en het baie projekte beplan vir die jaar wat sy die Mev. Limpopo Provinsie kroon dra.

POLOKWANE – Minder as twee maande nadat Irma Kidson as Mev. Limpopo Provinsie gekroon is, is sy Sondagoggend in ‘n motorongeluk oorlede.

Haar seun, Paul J Buitendag, sê sy ma het nie net die Mev. Limpopo Provinsie kroon met trots gedra nie, maar ook haar lewenskroon.

Irma (53) was op pad huis toe, toe die ongeluk plaasgevind het. Sy was alleen in die motor en is opslag dood.

Die kop-aan-kop botsing het 00:44 Sondagoggend naby aan haar huis plaasgevind.

Volgens Paul het Irma nie ‘n maklike lewe gehad nie, met die wat sy aangeneem was en haar pa oorlede is toe sy 10 jaar oud was. Haar ma het haar en haar boetie alleen grootgemaak. Haar boetie is in 2006 in ‘n tref-en-trap ongeluk dood.

“Sy was ‘n wonderlike ma. Iemand wat alles vir haar kinders sou gee en doen. Sy het ‘n opregte moedershart gehad. Alhoewel sy baie streng was, was sy tog liefdevol en altyd daar vir ons, maar nie saak hoe laat in die nag nie. Sy kon aanvoel as daar iets verkeerd is, selfs deur net ‘n WhatsApp boodskap te lees. Sy was ook net so lief vir my vrou, Larochel, en ons twee kinders.”

Paul sê Irma het onlangs weer liefde gevind na vele hartseer die afgelope paar jaar. “Sy het nooit enige sleg in iemand gesien nie, maak nie saak hoe hulle haar behandel het nie. Sy was ‘n sagte mens wat maklik kon huil, baie emosioneel.”

Irma het deur die jare by verskillende prokureurs kantore gewerk en was ten tye van haar dood ‘n litigasie tikster by Henstock van den Heever Prokureurs.

“My ma en my skoonma het op dieselfde dag verjaar en ons het Dinsdag voor haar dood vir hulle ‘n lekker ete gehou. Ek verjaar net ‘n paar dae later en ons het gewoonlik ons verjaarsdae saam gevier.”

Hy erken dit is moeilik om aan iets spesifiek te dink wat hy van haar gaan mis. “Ek kan nie aan iets dink nie. Miskien haar wispelturigheid of die boodskappies wat sy altyd gestuur het. Sy het daarvan gehou dat alles reg verloop, maar het ook van die onvoorspelbare gehou. Ek gaan haar rooi-lip-soene op my kinders se voorkoppe mis.”

Irma was baie betrokke in die gemeenskap en het baie projekte beplan vir die jaar wat sy die Mev. Limpopo Provinsie kroon dra. Paul sê alhoewel sy baie seer in die lewe beleef het, het sy net so baie bereik. “Haar liefde en gewildheid is sigbaar in die hoeveelheid boodskappe wat ons ontvang. Dit maak ons trots om hierdie boodskappe te lees.”

Haar jongste seun, Brandon, vind dit moeilik om oor sy ma te praat. “Ek mis haar vreeslik.”

Irma se vriend, David Meadon, is verslae oor haar dood. “Irma het vier maande gelede oor my pad gekom. Sy was ‘n dierbare mens wat net die beste in ander gesien het. Sy was nederig, liefdevol en ‘n regte omgee mens. Sy sal vir ewig in my hart bly, die tyd saam met haar was kosbaar en ek sal dit koester vir die res van my lewe. Sy het altyd tyd gemaak om te luister, al het sy self soveel pyn en hartseer beleef. Ek is bly ons voetspore het gekruis en dat ek ‘n tyd gegun is om daar vir haar te wees en haar by te staan. Die tyd is net baie kort geknip en my hart is stukkend, maar sy sal vir altyd in my hart bly.”

Juanita Smit, die organiseerder van die Mev. Limpopo Provinsie-kompetisie het ook haar medelye uitgespreek.

“Dit is met groot hartseer dat ons van Irma Kidson se skielike afsterwe verneem het. Irma se onverwagte dood laat ‘n groot leemte in ons harte. Sy was onlangs as Mev. Limpopo Provinsie 2023/4 gekroon en dis waar ons haar sagte omgeehart leer ken het. Ons het haar opgewondenheid gedeel met al die gemeenskapswerk wat sy wou aanpak en in die kort tydjie gesien dat sy nie met woorde dien nie, maar dat sy ‘n vrou van aksie was, wat met dade opvolg. Mzantzi Pageants (PTY) Ltd en RoleModels Foundation NPO bely hiermee ons innige medelye met haar gesin, familie en vriende in hierdie moeilike tyd.”

Johan van den Heever van Henstock van den Heever het bevestig dat Irma sedert Mei 2016 as litigasie- en invorderingstikster by dié firma gewerk het. “Sy was altyd entoesiasties en het deelgeneem aan die aktiwiteite wat die firma aangebied het. Haar familie was haar alles. Sy het ‘n omgeehart gehad en sou enigiemand in nood help as dit vir haar moontlik was.”

Irma word oorleef deur Paul J en Brandon, Larochel, twee kleinkinders, David en baie vriende en familie.

Haar roudiens vind môre om 13:00 vanuit die Lede in Christus Kerk op die hoeke van Hermanstraat en Tseseberylaan plaas. Kontak vir Paul om plek te bevestig by 076 855 3634.

Daar sal ook ‘n uitsending van die diens wees.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon. – Tom Stoppard

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button