Local News

BackaBuddy-rekening vir Leandri se operasie

Leandri van der Westhuizen se broer, PJ Strydom het besluit om 'n BackaBuddy rekening te skep met die doel om R200 000 in te samel sodat sy 'n broodnodige operasie kan ondergaan.

POLOKWANE – “Ek het my kind amper verloor toe sy 11-jaar oud was, en dit kan ek nie weer deurgaan nie.”

So praat ‘n bekommerde Thelma van der Schyff oor haar dogter, Leandri van der Westhuizen (44), wat 33 jaar gelede met breinkanker gediagnoseer was en nou, jare later, ‘n dringende operasie moet ondergaan.

“Sy het destyds ‘n Sondagskoolpiekniek bygewoon en was besonders moeg toe sy by die huis kom. Sy het so vas geslaap dat sy glad nie die telefoon wat langs haar was, gehoor het nie.”

Leandri het die volgende dag van hoofpyn gekla en aangesien sy nie voorheen daarmee gesukkel het nie, het Thelma besluit om haar dokter toe te neem, vanwaar sy na ‘n dokter aan die Rand gestuur is vir skanderings.

Leandri is kort daarna met ‘n gewas gediagnoseer en het ‘n operasie ondergaan waarna sy vir ‘n maand lank elke dag bestraling moes ontvang.

“Die dokter het gesê sy gaan nie ouer word as 15 nie. Ons het haar gereeld vir opvolgbesoeke geneem waar daar elke keer bevind is dat sy kankervry is,” vertel Thelma.

Leandri vertel dat, teen die tyd dat sy 21 jaar oud was, sy gesond was en by ‘n bekende koeldrankvervaardiger begin werk het.

In 2021 het Leandri egter ‘n beroerte gekry wat die regterkant van haar lyf aangetas het. Sy moes leer om basiese dinge van voor af te kan doen – van skryf tot praat en loop. Terapeute in haar familie het haar gehelp met rehabilitasie-oefeninge sodat sy weer normaal kon voortgaan.

“Vroeg verlede jaar is ek met Covid-19 gediagnoseer. Ek het dié aand in die hospitaal geslaap en van daar af het dinge vinnig versleg.”

Leandri se neus was baie waterig, en dié vog is in ‘n laboratorium getoets waar bevestig is dat dit serebrospinale vog is wat vanaf haar brein lek.

Nadat daar skanderings gedoen is, is besluit dat Leandri dringend ‘n operasie moet ondergaan om haar kanse op ‘n infeksie te verminder.

‘n Paar maande gelede het Leandri weer erge hoofpyne begin ervaar. Haar familie het ‘n ambulans ontbied een nag, en sy is na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal geneem.

Hier het sy vir twee dae gelê voordat sy in ‘n saal opgeneem is. Na drie weke in die hospitaal het die medikasie wat hulle vir haar gegee het, nie met haar geakkordeer nie.

Met haar man, Kobus wat ver werk berus Leandri se versorging nou algeheel in haar ma en skoonma se hande.

“Wanneer ek hoes of nies is die pyn onbeskryflik, en hoe meer vog ek verloor hoe groter is my kans om infeksie te kry. As ek regop en stil sit loop my neus nie, maar ek kan nie werk of bestuur nie.”

Haar broer, PJ Strydom wat tot onlangs ‘n onderwyser by Oosskool was, het besluit om ‘n BackaBuddy rekening te skep met die doel om R200 000 in te samel sodat Leandri dié broodnodige operasie kan ondergaan.

Dié operasie sal sorg dat ‘n sintetiese membraan ingesit word dat sal keer dat die serebrospinale vog verder lek.

“As ons net R50 000 kan kry, kan ons die bal aan die rol sit. Ek kan haar nie weer amper verloor nie. Ons vra dringend hulp en enige bydrae sal waardeer word,” het Thelma afgesluit.

Kan jy bydra? Vind die BackaBuddyrekening hier.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button