Local News

Phillip hoop om miljoenêr te word in TV-kompetisie

Phillip se Kombuis het hy in 2020 vrygestel, met die maak en verkoop van druiwekonfyt, nou maak hy die heerlikste sjokoladeblokkies, dadelballetjies, koeksisters en nog meer.

MOKOPANE – ‘Ek sou kon doen met ‘n miljoen,’ die bekende liedjie van Lucas Maree, is so reg in die kraal van die gewilde Albert van Wyk, eiendomsbelegger, entrepreneur en skrywer van die topverkoper boek, ‘How to Become a Millionaire at 22’.

Van Wyk het verlede jaar die Maak My ‘n Miljoenêr-kompetisie geloods, waar hy skole regoor Suid-Afrika besoek en verduidelik wat dit beteken om ‘n miljoenêr te wees.

Hy het vroeër vanjaar ook ‘n draai by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gemaak, sy lewensverhaal gedeel en leerders aangemoedig om entrepreneurs te word.

Leerders wat hul eie besighede bedryf, kon vir die kompetisie inskryf.

Phillip Bredenhann, ‘n gr. 10-leerder, het bykans dadelik ingeskryf.

“Die kompetisie is straf, met 144 jong entrepreneurs wat vanjaar ingeskryf het,”vertel hy.

Die top 50 kandidate is reeds gekies nadat hulle videos moes instuur wat hulle besighede mooi uiteensit. Hierna is die lys minder gemaak tot 40 finaliste, en later 20.

“Ek was so bly om uit te vind ek is deel van die top 20,” het Phillip aan Bosveld vertel.

Verskeie werkswinkelsessies en uitdagings wat gevolg het, het hy moeiteloos voltooi, en nou begin die groot wag.

Hy vertel hy het ingeskryf vir die kompetisie, omdat hy ‘n entrepreneur in vlees en bloed is.

“Ek het my liefde en passie van my ma af gekry. Van jongs af het ek saam met haar in die kombuis gewerk en op twee reeds my eie Peppermint Crisp-tert gemaak.”

Phillip se Kombuis het hy in 2020 vrygestel, met die maak en verkoop van druiwekonfyt. Nou maak hy die heerlikste sjokoladeblokkies, dadelballetjies, koeksisters en nog meer.

Die finale fase van die kompetisie is om te kyk watter entrepreneur se omset die grootste is, voor die gala-aand wat in Oktober gehou word.

Volg gerus die program op Via Kyknet kanaal 147 elke Woensdagaand.

Phillip bedank graag die Arrie Nel Apteekgroep, asook Dries du Plessis Projects vir sy borgskappe.

Phillip se Kombuis lewer landswyd af – vir bestellings, kontak 066 230 1289.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button