Local News

Obie Oberholzer – Die verlange het te veel geword

Obie Oberholzer was op die toneel dood verklaar nadat sy familie sy lyk gevind het.

POLOKWANE – Slegs enkele dae voor die eenjaarherdenking van Lindie Oberholzer se moord, word haar man, Obie Oberholzer (53) se lyk deur familie gevind slegs ‘n paar meter van waar haar liggaam verlede jaar gevind is.

Volgens Lindie se dogter, Antonette Koekemoer, het die familie ‘n paar dae gesukkel om vir Obie in die hande te kry.

“Sy foon het heeltyd oorgegaan na stemboodskappe toe, en ons het besluit om te gaan kyk of alles in orde is. My skoonpa, Chris Koekemoer, en sy buurman het deur ‘n venster gekyk en vir Pa Obie op die grond sien lê. Die hek was met ‘n slot gesluit en ons moes die deure oopforseer om in die huis te kom.

Die polisie en ambulansdienste is ontbied en hy is op die toneel dood verklaar.”

Sy het bevestig dat geen gemene spel vermoed word nie.

Lindie is op 17 Augustus 2022 in haar huis vermoor. Obie en haar seun, Armand Smit het op haar liggaam afgekom nadat hulle van ‘n jaguitstappie af teruggekeer het.

Lees ook: Tiener verskyn in die hof vir ‘biltongvrou’ se moord

Lindie se dood het haar man swaar getref, en hy het dit nie maklik gevind om die lewe weer in die oë te kyk nie, het Antonette gesê.

Obie en Lindie Oberholzer.

In Januarie, vyf maande na die moord, is Obie op die kleinhoewe waar hy gewoon het, aangeval. Daar was vyf verdagtes wat toegang tot sy erf gekry het deur die elektriese drade te knip.

Die aanvallers het Obie verskeie kere met ‘n mes gesteek en met ‘n piksteel oor die kop geslaan.

“Dit is ‘n seer en rou wond wat weer oopgekrap is, vir ons as familie en dit so kort na my ma se dood. Hierdie week sou dit ‘n jaar wees vandat ons haar verloor het,” sê Antonette.

Sy voeg by dat Obie ‘n goeie mens met ‘n goeie hart was. Sy hande was altyd oop om ander te help.

“Ek dink die verlange na my ma was net te groot gewees. Ek gaan hom baie mis, ons almal gaan. Alhoewel daar so baie sleg en seer uit die afgelope jaar gekom het hou ons vas aan wat mooi is en ons koester dit in ons harte. Ek glo hy is nou by my ma en tot ruste.”

Obie word oorleef deur sy twee broers, sy ouers en Antonette, sy stiefdogter.

“Daar is eintlik ‘n hele klomp mense, want almal was net so lief vir hom. Alhoewel dit seer, leeg en rou is dra die Here ons waar ons nie meer kan loop nie.”

Die beskuldigde in Lindie se moordverhoor, Fortune Mahlatse Sebone se saak word die eerste week in Oktober in die Polokwane Hooggeregshof aangehoor.

Antonette sê dit sal dan ‘n hoofstuk wees wat hulle sal kan afsluit, “nie dat dit die seer en rouheid ooit sal wegneem nie, maar my ma was dan darem nie net nog ‘n stuk statistiek nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button