Local News

André Hay: Totsiens, Ou Grote

André Hay, wat diep spore in die rugbywêreld getrap het, word beskryf as iemand wat voluit gelewe het, en 'n mensemens was.

POLOKWANE- Die derde kwartaal het op ‘n hartseer noot, nie net vir Curro Heuwelkruin nie, maar ook vir ander skole in die stad en die provinsie begin, na die skielike afsterwe van die Limpopo Blou Bulle Hoërskole Rugbyvereniging (LBBHRV) se voorsitter, André Hay.

André is op 20 Julie in die ouderdom van 58 jaar oorlede. Hy het diep spore in skolerugby in Limpopo getrap met bekende spelers wat deur hom gebrei is.

Volgens die vereniging se sekretaris, Gerald Marks was André ‘n mense-mens, iemand wat voluit gelewe het en “niks terug gehou nie”.

“Ek het André in 2008 ontmoet en hy was toé al betrokke by Limpopo hoërskolerugby. André het vir jare die Limpopo Blou Bulle Cravenweek afgerig met groot sukses en hy het gelewe vir sy rugby. Vir André was die beste, die ‘bottom line’. Hy het ‘n gawe gehad om ‘n speler se beste uit hom te haal sonder dat hulle ooit gesê het, ‘maar coach, ons kan nie meer nie’. Hy het diep spore in baie seuns se lewens en harte getrap en spelers het hom altyd kom groet – maak nie saak waar dit was nie. Dit alleen spreek vanself.”

Alhoewel André reeds in 2017 te kenne gegee het dat hy wou afstaan van die Cravenweek-afrigting, is hy destyds in sy afwesigheid tydens die LBBHRV se jaarvergadering aangestel as voorsitter van die vereniging, vertel Marks.

André Hay

“Ons het van November 2017 af nou saamgewerk. André het heelwat veranderinge aangebring en met sy hart die taak as voorsitter met ywer aangepak en uitgevoer.”

André het hom ook beywer om rugby te ontwikkel en in die provinsie te bevorder. Hy het ‘n groot rol gespeel in die ontstaan van Kruinies Rugbyklub en het hier ook binne twee jaar van Kruinies ‘n klub gemaak om mee rekening te hou.

Die familieman het ook gelewe vir sy kleinseun. Dit was die punt van sy hart en André het tyd gemaak om met hom te praat, volgens Marks.

André was jarelank by Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen betrokke en hier het hy sy rugbystempel al afgedruk met groot verteenwoordiging van spelers uit Ben Vorster in die provinsiale spanne.

Seuns het groot agting en respek vir hom gehad. Gedurende toere sou hy altyd voor en na die wedstryde met die seuns praat en hulle motiveer.

“Hy het altyd vir hulle gesê môre skyn die son weer. Ons groet ‘n groot gees wie se afsterwe hartseer, skok en ‘n leemte laat, nie net in Limpopo-rugby nie, maar ook in die lewe van sy geliefdes. Ons, en veral ek, gaan jou baie mis, ou maat. Jy was ‘n steunpilaar en ‘n vriend duisend. Dit het die Vader behaag om jou eindfluitjie te blaas met jou rugbywedstryd hier op aarde. Rus in Vrede. Nag, Ou Grote,” sluit Marks af.

Ben Vorster het op Hoërskole Rugby Limpopo se Facebookblad hulde gebring: “André het vanaf 1999 tot en met 2016 by die Hoërskool Ben Vorster afgerig, van 2002 af was André die voltydse rugby-organiseerder by Ben Vorster. André was een van die stigterslede van die Nyathi Rugbytrust wat Ben Vorster se rugby na hoër hoogtes geneem het.

‘n Foto van André Hay vroeër vandeesmaand geneem tydens die u/18 Cravenweek in George.

André het as eerste span afrigter die Noordvaalbeker vier keer verower: in 2006, 2008, 2010 en 2013. Hy het ook in 2008 ‘n dubbele slag geslaan deur die Noordvaalbeker met die o/15-span te wen. André was ‘n groot man met ‘n baie klein hartjie en was ‘n pa en ‘n mentor vir menige seun in Ben Vorster. Rus sag Ou Grote! Wees verseker jy leef voort in harte van menige oudspeler en ouers waarmee jy te doen gehad het. Die Vossies salueer jou, André!”

Curro Heuwelkruin se uitvoerende hoof, Eben Lingenfelder het André as ‘n legende in sy eie tyd en enig in sy soort beskryf.

Sy afsterwe word wyd betreur in rugbykringe, met medelye wat vanaf Nieu-Seeland en die VS ingestroom het.

André was vir sewe jaar aan beheer van die sport en fasiliteite by Curro Heuwelkruin. Dié kampus was sy trots en hy het geweldige genot geput uit besoekers se komplimente.

“As afrigter het hy oor die vermoë beskik om met spelers van o/6 tot op klubvlak te werk. Sy geesdrif was aansteeklik en menige speler en oudspeler sal getuig van die groot rol wat hy in hul sukses gespeel het,” vertel Lingenvelder. Hy het verder bygevoeg dat André vroeg in sy lewe ‘n passie vir sport ontwikkel wat later die dryfkrag agter sy afrigtingsloopbaan geword het. Hy het ‘n onwrikbare toewyding na uitnemendheid, op en van die veld vertoon. Hy het waardes van sportmanskap, spanwerk en uitnemendheid by spelers ingeboesem, vertel hy.

André word oorleef deur sy vrou, Annemie, stiefseun Clinton skoondogter Marna, kleinseun Aulro, twee broers en ‘n suster.

‘n Roudiens word vandag (Woensdag) om 12:00 vanuit die N.G. Kerk Pietersburg-Noordgemeente op die hoek van Dorp- en Dr. Anneckestraat gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button