Local News

Hout is goud in sý hande

Godfried Kruger eienaar van MG Kruger Woodwork bedryf sy besigheid met houtwerk wat hy maak en restoureer.

POLOKWANE- Houtwerk is wat hom gehelp het om sy pad deur universiteit te betaal, en uiteindelik ook sy kinders groot te kry.

So gesels die 67-jarige Godfried Kruger, die eienaar van MG Kruger Woodwork.

Hy bedryf sy besigheid, wat meubels maak en restoureer, vanaf sy huis in Eduanpark met die ondersteuning van sy vrou Denise, vertel hy.

“Ek het al baie meubelstukke en -items gemaak, van tydelike verhoë vir skoolkonserte, tot gebruiksitems soos speseryrakke, horlosies, groentemandjies, juwelekissies en items wat klante spesiaal aanvra.”

Hy is duidelik versot op sy kinders: Werner hou skool by Elica Primary School, Hugo wat in Frankryk werk as ‘n kernkrag siviele ingenieur, Michelle, ‘n onderwyser in Japan, en Mariam wat ‘n doktorsgraad in wiskunde het en haar ook in Parys, Frankryk bevind. Sê Werner: “Ek kyk op na my pa want hy werk bitter hard. Hy laat ook nie sy ouderdom in sy pad staan nie. Wanneer ek hom by die huis sien werk, sien ek die passie wat hy vir sy besigheid het, en sy wil om ‘n beter toekoms te verseker. Ons kinders is vandag selfstandige grootmense en burgers, vanweë ons ouers se werk in ons lewens.”

Godfried Kruger se skeppings.

Die entrepreneur vertel dat hy sy vernuf in die veld opgedoen het danksy sy pa en oupa, wat hom reeds sedert sy vyfde verjaardag touwys gemaak het.

“Hulle het drie baie belangrike reëls gehad wat ek steeds vandag baie streng volg: veiligheid, akkuraatheid, en dat niks minder as jou beste handewerk goed genoeg is. By daardie beginsels staan ek vas.”

Onder sy trotsste items is ‘n verhoog by die internasionale skool in Mahikeng, ‘n 22-sitplek raadsaaltafel en ‘n 16-sitplekbiblioteektafel vir Mitchell House, asook talle skole se erekleureborde.

“Ek was voor my aftrede vir vyf jaar werksaam by Mitchell House, en daarna het ek weer met die houtwerk begin. Dit was nie lank nie, of die projekte het weer begin instroom.”

Hy is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hy vanaf plaaslike inwoners kry. “’n Mens kan nooit genoeg klante hê nie, en ook nooit genoeg dankie sê nie,” sê hy. Om te kyk wat hy met hout kan skep, volg hom gerus op Facebook: M G Kruger Woodwork of stuur ‘n e-pos na Krugergodfried@gmail.com.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button