Schools

Netbal bly Carla Craig se groot passie

Soos talle ander sportpresteerders het Carla reeds op 'n jong ouderdom begin netbal speel.

POLOKWANE – Carla Craig, oud-Pietie en dogter van PHS-netbalafrigter Elmarie Craig, het vanjaar weer haar vernuf op die baan ten toon gestel tydens die nasionale Telkom netbalkampioenskappe wat in Kaapstad van 11-14 Julie gehou is.

Ook het sy vooruit gedraf as die kaptein van die Capricorn distrikspan, wat ‘n brons medalje verwerf het by dié toernooi.

Sy sê dis ‘n ervaring wat sy met trots dra. “Baie geluk aan my spanmaats asook die tegniese span, want dit was ‘n spanpoging wat aan ons die derde pleg besorg het. Alhoewel ons graag die trofee wou hê, sal ons harder werk volgende keer. Ek is behoorlik trots.”

Soos talle ander sportpresteerders het Carla reeds op ‘n jong ouderdom begin netbal speel. “Alhoewel ek amptelik eers op ses jaar begin speel het, het my ma my baie vroeër al aan dié sportsoort blootgestel. Ek het so te sê langs netbalbane grootgeword.”

Carla Graig.

Sedert haar beginjare in netbal het sy altyd die hoogste sport hierin bereik.

“Ek was in die Limpopospan toe ek o/12 en o/18 gespeel het, en in 2019 het my o/15-span vyfde geëindig by die Kay Motsepetoernooi. Ek was ook gekies vir die nasionale o/21-toernooi wat goud gewen het in die 2021 Spar kampioenskappe, en die jaar daarna brons. In dieselfde jaar is ek gekies vir die SA o/21-oefenspan.”

Haar prestasies is beslis te danke aan haar ouers, afrigters en ondersteuners, vertel Carla.

“PHS se afrigters het ‘n groot passie vir netbal. Hulle sit alles in, tesame met ‘n groot kennis van die sport. My afrigter, Melandie Snyman, het my van o/14 tot o/18 afgerig en sy weet hoe om die beste uit haar spelers te haal. Met tye was sy besonders nougeset oor ons voorkoms op en van die baan af, en dit is iets wat my altyd sal bybly.”

Dit is hierdie dissipline, vertel Carla, wat haar afrigter en haar ma by haar tuisgebring het. “Ek moes vir ‘n operasie in my knie gaan in ‘n stadium, en dit is dieselfde dissipline wat my fisieke en geestelike welstand help opbou het. Skaars sewe maande na die operasie kon ek weer netbal speel.”

Sy beskryf haar verhouding met haar ma, as veteraanadministrateur van netbal en PHS-afrigter as ‘n “match made in heaven”. “Ons het ‘n baie spesiale band met mekaar, en met netbal, en dit is vir my ‘n voorreg om iemand te hê met wie ek my passie vir die sport kan deel. Een ding wat ek by haar geleer het, is om 100% te gee, en dit is wat ek as speler wil doen en ook as afrigter.”

Sy sê haar ma help haar graag waar dit by die fynere punte van afrigting kom, en is altyd langs die baan wanneer sy, of die span wat sy afrig, speel. “Haar passie vir die sport is ongelooflik, en iets wat ek beslis wil nastreef soos ek ouer word.”

Dié knap 19-jarige studeer tans senior fase onderwys, en sê sy sal altyd dankbaar wees vir haar tyd by PHS.

“Ek was vroeg al geleer om verantwoordelik te wees en ek glo dit het my op ‘n groter pad gesit. Ek het die eerste keer vir die Capricorndistrikspan in 2019 gespeel, en om daar kaptein te wees is werklik ‘n voorreg. Soms is dit moeilik om positief te bly wanneer alles foutgaan, maar ek weet ek en my mede-kaptein, Tebogo Selepe probeer ons bes om die ander spelers te inspireer.”

Carla mik om eendag vir die Proteas uit te draf, sluit sy af. “Daardie droom is ‘n werklikheid, en een waaraan ek hard werk.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button