Local sport

Motivering is belangrik, meen juf. Karen

Karen Groenewald is reeds die afgelope sewe jaar 'n geliefde gesig by Oosskool, waar sy Afrikaans vir gr. 4's aanbied.

POLOKWANE – Reeds van ‘n jong ouderdom af het die onderwysgogga Oosskooljuffrou Karen Groenewald beetgehad – sy en haar broers en suster het immers talle kere skool-skool gespeel, en die saadjie was geplant.

Na sy haar skoolloopbaan aan Hoërskool Pietersburg voltooi het, het sy onderwys by Normaal Kollege Pretoria gaan studeer.

Sy is reeds die afgelope sewe jaar ‘n geliefde gesig by die skool, waar sy Afrikaans vir gr. 4’s aanbied.

Sy erken dat sy, soos menige aspirant onderwysers ook met sterre in haar oë vir haar ‘n prentjie geskep het oor hoe ‘n tipiese dag in die lewe van ‘n onderwyser verloop.

“Die onderwys is glad nie wat ek in gedagte gehad het nie. Om skool te hou is harde werk en geensins ‘n halfdagberoep nie. Soms is dit emosioneel uitputtend, maar terselfdertyd ook baie bevredigend. Onderwys was nog altyd my passie, maar ek sou ook graag ‘n huisvrou en ma as voltydse beroep wou beoefen. Ongelukkig is dié salaris nie voldoende nie,” skerts sy.

Sy voeg by dat die onderwys drastiese verandering gesien het in afgelope dekades.

“Die leerinhoud is meer en die tempo is vinniger. Kinders se kennis en vaardighede verskil ook vanweë die rol wat tegnologie speel. Die grootste uitdaging vandag is om kinders se aandag te behou as gevolg van swak dissipline en die feit dat daar min tot geen nagevolge vir hul aksies is nie.”

Oor tegnologie in die klaskamer vertel sy dat die klasse by Oosskool interaktiewe borde het wat help om die leerders se aandag deur visuele én ouditiewe leermateriaal te boei. Inligtingsbronne is danksy die internetverbinding ook vinniger beskikbaar vir die onderwyser.

“Daar is sekere ouderdomsgroepe ‘n agterstand in vaardighede soos lees en skryf. Met Covid-19 het leerders dié vaardighede nie herhaaldelik kon inoefen nie en dit is dus nie vasgelê nie. Werkende ouers kon ook nie altyd hulle kinders daarmee bystaan nie.”

Groenewald, wat ook jukskei afrig by die skool, meen egter dat motivering belangrik is, en sy motiveer haar leerders deur konsekwent en positief te wees, en altyd ‘n grappie of humor byderhand te hê.

En hoe lyk ‘n goeie dag se werk?

“’n Goeie dag is beslis wanneer ek in ‘n kind se oë sien dat hy of sy die inhoud baasgeraak het, wanneer daardie spreekwoordelike liggie aangaan. Dit bevestig beslis dat ‘n mens jou taak volvoer het,” sluit sy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button