Schools

Kaskarre kook by Kruinies

Volgens Irma Lottering is die dag gereël vir die leerders wat moes agterbly toe dié skool se sportspanne na Pretoria moes reis vir die Curro wintersportdag.

POLOKWANE – Curro Heuwelkuin se onderwysers is beslis nie bang om voor te loop by dié skool nie, en toe ‘n kaskarkompetisie hom onlangs voordoen het hulle beslis die voorbeeld gestel.

Tydens die kompetisie, wat verlede Woensdag gehou is, het die hoër- en laerskoolonderwysers die eerste ronde gery en so ook die dag geopen.

Volgens die organiseerder van die dag, Irma Lottering is die dag gereël vir die leerders wat moes agterbly toe dié skool se sportspanne na Pretoria moes reis vir die Curro wintersportdag.

Maumela Mashapa en Emily Makalo stoot terwyl Zoe Manyowa die stokke vashou.

“Die hoërskoolonderwysers het hierdie ronde lag-lag gewen met ondersteuning en luide toejuiging van die leerders,” het sy opgemerk.

Die geleentheid is deur The Great Soapbox Fun in Pretoria gereël.

“Hulle voorsien die karre, slaan die bane op en behartig die vloei van die dag.”

Daar was drie bane vir die kaskarre – een vir elke fase.

Angelica Kruger bestuur terwyl André Horn en Ariana Farinha stoot.

Die grondslagfase se baan was ongeveer 65m lank; die intermediêrefasebaan 80m lank en die hoërskoolleerders moes 100m aflê.

Leerders het in klasverband deelgeneem en moes probeer om soveel as moontlik rondes in ‘n halfuur tydgleuf te voltooi.

“Behalwe vir al die pret en lekker lag het die leerders weereens vir ons bewys wat vermag kan word deur spanwerk. Daar was drie leerders per klas wat op ‘n slag deelgeneem het terwyl die res van die klas hulle ywerig aangemoedig het. Spoed alleenlik was ook nie die oorwegende faktor nie. Spanlede moes kommunikeer om beheer te behou oor die kar wat deur ‘n tou bestuur is,” volgens Lottering.

Singita Mongolele en Tsatsi Molokoane span mannekrag in terwyl Naledi Legodi bestuur.

Die leerders kon verder ook deelneem aan ‘n interne fondsinsamelingsprojek ten bate van die matriekafskeid later vanjaar.

Elke leerder het ‘n vorm ontvang waar blokkies wat kaskarre voorstel, teen R2 verkoop is.

Die leerders wat die meeste karre uit elke ouderdomsgroep verkoop het, gaan ook beloon word.

Pamela Mushwana en Palesa Leputu is die dryfkrag en Tinyiko Shitlhangu is agter die stuur.

Na die kaskarre tot finale stilstand gekom het, is daar wenners in elke fase aangekondig.

• Grondslagfase: Gr. 3 E2.

• Intermediêre fase: Gr. 7 kombinasiespan.

• Senior fase: Gekombineerde gr. 8A- en gr. 9A-span.

Pryse is ook toegeken vir die wenklas in elke groep.

Irma sê die leerders en onderwysers het die dag baie geniet. “Ek glo ons gaan vir seker weer volgende jaar hierdie kompetisie hou.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button