Local News

Allerse maak hul harte en huis oop vir ander

Die egpaar doen 'n beroep op die gemeenskap om hulle deure oop te maak vir pleegkinders.

POLOKWANE – Maritsa en Deon Allers is twee mense wat ondanks die feit dat hulle self twee seuns het, hulle huis en harte oopgemaak het vir kinders wat se ouers weens omstandighede nie na hulle kan omsien nie.

“Ons het in 2018 na Polokwane verhuis en ongeveer ‘n jaar later het ons bewus geword van ‘n 16-maande-oue baba wat saam met sy ouers in ‘n bakkie in ‘n garage gewoon het. In sy lewe het hy nog nooit gebad nie.”

Met behulp van die welsyn het hulle ondersoek ingestel en die kind is verwyder.

“Dié seun het by my vriendin opgeëindig, waar hy steeds woon,” vertel sy.

Hierna het die Allerse ‘n meisie ingeneem vir pleegsorg en later ook twee seuns.

‘n Paar weke gelede het ‘n baba van ‘n maand oud ook by hulle ‘n veilige hawe gekry.

“Ons eie seuns aanvaar die pleegkinders in ons sorg onvoorwaardelik. Volgens wet mag ons net ses kinders hê en dus wil ons so gou as moontlik ‘n deposito op ‘n huis kan neersit. Dié huis wil ons dan omskep in ‘n kinderhuis waar kinders in liefde kan grootword.”

Deon is in die bediening en sê hy het jare gelede al ‘n boodskap van God gekry dat daar ‘n kinderhuis in sy toekoms gaan wees.

Hulle het reeds R150 000 ingesamel wat bykans genoeg is vir ‘n deposito.

Daar moet ook ‘n geskikte voertuig aangekoop word.

Maritsa erken dat dit egter nie elke dag maklik is om na pleegkinders te kyk nie.

“Pleegkinders het reeds baie trauma in hulle lewens ervaar en dit veroorsaak gedragsprobleme. Dissipline is ook moeilik. Verder word al die uitgawes deur die pleegouers gedek, van skoolgeld tot klere en ander behoeftes.”

Die egpaar doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle deure oop te maak vir pleegkinders.

“Daar is ‘n groot behoefte aan pleeghuise vir hierdie kinders. In Jakobus 1:27 word ons beveel om na die weeskinders en weduwees om te sien. Ons wil vir hulle ‘n plek van veiligheid skep waar ons ook bediening kan doen,” sê Deon.

Items wat benodig word vir die pleegkinders sluit in babasjampoe, doeke en melk.

“Ons het ‘n voltydse nood aan produkte wat elke maand gekoop moet word. Mediese hulp is ook nodig aangesien die kinders ne sanders kinders, ook siek word. Die mense in ons bediening is goed vir ons en help ons baie. Dr. Anchen Gerritsen van Medpark is ons baie goedgesind,” sê Maritsa.

Verdere skenkings word ook benodig in die vorm van sement en bakstene vir die nodige aanbouings. As jy kan bydra, kontak hulle by info@deonallers.co.za, 076 373 3143 of 083 298 2035.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button