Local News

Petri tuis by sy alma mater

Petri de Kok gee Afrikaans Huistaal vir PLS se gr. 6-groep en is verder ook betrokke by hoogspring, rugby en krieket.

POLOKWANE – Petri de Kok kom uit ‘n onderwysfamilie – albei sy ouers is onderwysers, en dit is presies wat as sy inspirasie gedien het hier waar hy nou sy passie as onnie by sy alma mater, Pietersburg Laerskool uitleef.

“Ek was self vanaf gr.1-7 ‘n leerder aan PLS en het as student ook hier gewerk. Ek is in Augustus 2018 hier aangestel as onderwyser, nadat ek vier jaar by Curro Heuwelkruin gewerk het.”

Petri gee Afrikaans Huistaal vir die gr. 6-groep en is verder ook betrokke by hoogspring, rugby en krieket. As alternatiewe beroep wou Petri vir lank professionele krieket speel.

Hy erken vandag dat die onderwys glad nie is wat hy gedink het dit gaan wees nie.

“Niks berei ‘n mens voor vir wat werklik in die klaskamer gebeur nie, behalwe om self te sien en te ervaar wat gebeur. Dan léér jy hoe om situasies te hanteer.”

Tegnologie is deel van almal se lewens en by skole word dit ingespan om lesse interessanter te maak.

Petri sê tegnologie stel hom in staat om aan leerders skyfiereekse op te stel sodat hulle belangstelling visueel geprikkel kan word.

“Handboeke wat deesdae as elektroniese boeke uitkom, stel my in staat om die handbook ook op die projektor te vertoon, sodat die leerders saam met my vanaf die skerm kan werk. Ek kan verder ook aanlynbronne gebruik om video’s af te laai wat deel vorm van die lestema.”

Uitdagings is daar vele van, maar hy sê die swaarste hiervan is die sosio-ekonomiese omstandighede waarin leerders hulle bevind.

“Dit syfer deur na die skoolomgewing. Sosiale media en vrylike toegang tot die internet dra by tot ernstige gedragsprobleme by sekere kinders. Minagting van respek vir onderwysers bemoeilik ook die onderwysers se taak in die klaskamer. Die gebrek aan ouerbetrokkenheid by sommige leerders is baie problematies.”

‘n Laerskoolleerder moet ook gemotiveer word om agter die boeke in te skuif, en dis hier waar Petri die kinders gereeld herinner dat hulle aan hulle toekoms moet werk.

“Ek leer hulle ook dat dit wat hulle in die klas leer, weer in die toekoms gebruik gaan word. Ek probeer by hulle tuisbring dat jy op jouself en jou werk moet trots wees. Al die werk wat hulle in die klaskamer doen, doen hulle immers vir hulself.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button