Schools

Pietersburg Laerskool se Aiden maak topskuiwe

Aiden Veldman het onlangs saam met bykans 100 ander skaakspelers aan die Capricorn distrikskampioenskappe deelgeneem, waar hy in sy ouderdomskategorie met 'n eerste plek weggestap het.

POLOKWANE – Vir Aiden Veldman is die moeilikste deel van skaak speel om teen ‘n onbekende opponent te speel.

Terselfdertyd droom hy daarvan om binnekort op bord een te speel, wat beteken hy gaan teen iemand wat die beste van bestes is, te staan kom.

“Wanneer ‘n mens op bord een speel, is die kans baie goed dat jy nog nie teen daardie opponent gespeel het nie – en dit maak dit ‘n uitdaging met die doel om beter te speel.”

Aiden is in gr. 7 by Pietersburg Laerskool en het onlangs saam met bykans 100 ander skaakspelers aan die Capricorn distrikskampioenskappe deelgeneem, waar hy in sy ouderdomskategorie met ‘n eerste plek weggestap het.

Sy skaakloopbaan het reeds vroeg begin, toe hy aan dié sportsoort blootgestel was, en in gr. 3 neem hy aan die eerste van vele wedstryde deel.

“Ek was verlede jaar deel van die Suid-Afrikaanse span en hoop om hierdie jaar weer daardie eer te kan hê. Toe ek hoor ek het die distrikskampioenskappe gewen, het ek eers nie gedink dat dit waar is nie. Dit het gevoel soos ‘n droom.”

Maar skaak is baie meer as net ‘n sport vir Aiden – hy sien dit ook as ‘n manier om nuwe mense te ontmoet en vriende met dieselfde belangstellings te maak. Hy geniet die uitdaging wat dit hom bied wanneer hy teen beter spelers te staan kom, en vertel hoe die spelers vriende is voor ‘n wedstryd, maar opponents daartydens.

“Ek oefen elke dag wanneer dit nie eksamen is nie. Ek kan teen ‘n rekenaar speel, maar ek verkies die interaksie van ‘n persoon waarteen ek kan speel. Ek raai beginnerspelers aan om eers die basiese aspekte van die spel baas te raak, voordat hulle met allerhande truuks begin.”

Wiskunde is sy gunsteling vak en na skool beoog hy om ‘n teoretiese fisikus te word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button