Schools

Dra by vir Christopher se mediese sorg

Dié sewejarige gr. 2-leerder by Pietersburg Laerskool het permanent nekpyn, en ervaar ook pyn in sy bene.

POLOKWANE – Terwyl sy maats ‘n rugbybal rondskop, moet die jong Christopher Oosthuizen vandag op die kantlyn sit.

‘n Paar gelede sou hy nog probeer saamspeel, maar deesdae kan hy amper nie meer loop nie.

Dié sewejarige gr. 2-leerder by Pietersburg Laerskool het permanent nekpyn, en ervaar ook pyn in sy bene. Omdat hy sy voete nie kan plat neersit nie, loop hy op sy tone, maar selfs dit sorg nie vir minder pyn nie.

Christopher Oosthuizen gebruik sy hande om hom te balanseer as hy loop, aangesien hy op sy tone moet loop.

Volgens sy ma, Stella, het sy destyds toe hy begin loop het, besef daar is fout.

“Hy was baie onvas op sy voete en ek kon sien hy loop nie reg nie. ‘n Dokter in die staatsdiens het met elke besoek vir my gesê dit ‘n gewoonte wat hom so laat loop, en daar is nie verder ondersoek ingestel nie.”

Stella, ‘n enkelouer, het die nodige geld bymekaar geskrap om haar kind medies te laat ondersoek deur ‘n ander dokter.

Dié het toe voorgestel dat Christopher by ‘n fisioterapeut uitkom; Christopher het later ook die geleentheid gekry om by die skool te stoei, maar selfs dié oefening het die verligting gebring waarop hulle gehoop het nie.

Sedert Januarie het Christopher se simptome vererger.

Stella het weereens plan gesien en hom na ‘n algemene praktisyn geneem.

“Ons het gedink die probleem lê by Christopher se bene. Die dokter het X-straalplate van Christopher se rug geneem en ons na ‘n spesialis verwys. Dié het gesorg dat daar ‘n MRI-skandering van sy rug geneem word. Die algemene praktisyn het ons meegedeel dat daar ‘n vergroeisel op Christopher se rugmurg is.”

Haar seun is hierna na nog ‘n spesialis verwys, iemand wat spesifiek met hierdie tipe probleem werk.

Aangesien nog skanderings gedoen moet word, en Stella intussen nie meer werk nie, is fondse maar skraps.

“Ons moet hierdie keer self betaal en dit is baie duur. Ons benodig ook geld vir die narkotiseur, aangesien Christopher ‘n ligte narkose moet ondergaan vir hierdie tipe skandering. Die dokter het ook gesê dat Christopher aan asma ly, wat sy permanente siekwees verduidelik.”

Sou hierdie skandering gedoen word, gaan Christopher moet teruggaan na die spesialis, vanwaar die pad vorentoe bepaal sal word.

Die vergroeisel sal onder meer gedreineer moet word, en volgens Stella dalk meer as een maal.

“Sy skoolwerk gaan agteruit, want hy sukkel om te konsentreer. By die huis sit hy gewoonlik net voor die TV en loop nie baie rond nie. Hy speel soms wel met sy boetie. “

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus, het ook op sosiale media ‘n plasing gesit om bewustheid te skep, asook die bankbesonderhede vir diegene wat kan bydra.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button