Local sport

Kruinies rugby wen die plaaslike legends derby

Kruiniesafrigter Dawie Marais sê dit was 'n kragtoer van rugby wat gespeel is en se hy glo rugby leef in Polokwane.

POLOKWANE- Noordelikes Rugbyklub het Saterdag gasheer gespeel vir die spelers van Kruinies, toe daar meegeding is in die Day of The Legends plaaslike derby.

Die parkeerarea was gepak soos rugbygeesdriftiges van alle ouderdomme ‘n plek gesoek het om hulle gunsteling span of spelers te ondersteun. Die eerste, tweede en derde spanne het kragte gemeet.

Noordelikes se Marvin Peters vang die bal in die lynstaan.

Kruiniesafrigter Dawie Marais sê dit was ‘n kragtoer van rugby wat gespeel is.

“’n Plaaslike derby is nooit maklik nie. Spelers van albei klubs het harde rugby gespeel, en dit was lekker om soveel jong talent te sien. Ek glo rugby leef in Polokwane. Dankie vir al die ondersteuners. Daar was ‘n braai aan die gang net waar jy kyk, en daar was ‘n feestelike atmosfeer oral. Ons was mal daaroor.”

Henru Gouws van Noordelikes se derdespan wag vir die bal.

Marais het gesê hy is trots op die Kruinies vir uitmuntende spel op die dag.

Noordelikes se derdespankaptein, Denis Needham sê alhoewel die derby harde rugby gesien het, was dit goeie wedstryde.

“Die wedstryde tussen hierdie twee spanne is nooit maklik nie, en ons wou vir toeskouers ‘n dag gee om te onthou. Ons is trots op al ons spanne, en rugby was die wenner op die dag. Baie sterkte aan almal wat beserings het wat nou moet genees.”

Uitslae

Eerstespanne

KRC klop Noordelikes 51-21.

Tweedespanne

Noordelikes en KRC speel gelykop 19-19.

Derdespanne

Noordelikes klop KRC 33-5.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button