Local News

Kayla reël ‘Glow Walk’ vir ‘n goeie saak

Kayla se missie is om haar strale oor te gooi na ander en te wys dat waar daar 'n wil is, is 'n weg.

MOKOPANE- Louis en Elize du Preez van Heavenly Haven Care-We Care was oorweldig met die donasie wat Kayla Honiball, ‘n gr. 10-leerder van Hoërskool Hans Strijdom onlangs aan hulle oorhandig het.

“Met haar glow walk, het sy ons die aand vermaak met musiek. Almal het só mooi geglow met brille op, haasore, armbande en stringe en nogmaals stringe om hulle nekke. Met die wins wat sy gemaak het, het sy ‘n groot gasstoof gekoop vir ons tehuis.”

Hulle sê hulle waardeer die inisiatief, en is dankbaar teenoor Kayla se ouers wat haar bygestaan het met die projek.

“Kayla is ‘n omgeekind met Jesus in haar lewe en sy gaan dit nog ver bring. Haar missie is om haar strale oor te gooi na ander en te wys dat waar daar ‘n wil is, is ‘n weg.”

“Ons sal jou altyd nooi as ons iets lekker bak,” sê die trotse eienaars van Heavenly Haven Care-We Care.

Pieter en Louise het hul dogter trots ondersteun met die fondsinsamelingsprojek.

Kayla sê sy maak dit haar missie om drome waar te laat word. “Ek is deel van die Leadership Academy, wat geinisieer is deur Reaching A Generation. Dit is ‘n vyfjaarprojek wat reeds in gr. 8 begin het. Elke Oktobervakansie gaan ons na Shikwaru net buite Mokopane, waar ons leer hoe om ‘n verskil in ons gemeenskap te maak. Dit behels leierskapontwikkeling, vaardighede om behoeftes te kan identifiseer en nog vele meer. Na die kamp gaan ons terug na ons gemeenskap en doen navorsing oor behoeftes en waar ons ‘n verskil kan maak.” Kayla sê dat sy dan ‘n projekvoorlegging moet doen wat ingehandig moet word vir toekoms gebruik.

“As deel van my tweedejaarsprojek moes ons vrywilligers en borge werf. Ek het besluit om hierdie jaar ‘n Glow Walk te reël. Juffrou Pretorius het my gemotiveer en geondersteun en ek kan nie genoeg dankie sê vir haar hulp nie.”

Kayla het die kerke in Mookgophong genader om ‘n speletjiesmiddag aan te bied waarin hulle dan die geleentheid gehad het om kinders te bemoedig en die evangelie met hulle te deel.

Die plaaslike skole het ook die geleentheid gekry om kosstalletjies te beman ten gunste van die skole en kleuterskole. Die geld wat sy ingesamel het, het uit die verkope van die gloeistokkieverkope en toeganggelde gekom.

“Dit het my in staat gestel om voldoende geld in te samel om vir Heavenly Haven Care-We Care ‘n gasstoof te kon koop. Daar is oral groot behoeftes in ons klein gemeenskap.”

Kayla sê dis intimiderend om as ‘n jongmens by ‘n onderneming in te stap en te vra vir ‘n borgskap of skenking.

“Baie besighede dink jy is besig met onheilighede. Ek is net so dankbaar vir die ondernemings wat my nou al vir twee jaar ondersteun. Ek sal graag volgende jaar n soortgelyke projek wil aanpak om meer mense te inspireer.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button