Local News

‘Mnr. Holla’ – HTS groet ‘n ridder

Die huidige hoof, Vanessa Kachelhoffer onthou hoe Holtzhausen, selfs nadat hy hoof geword het, smiddae met leerders gesit het om hulle met ingenieurswese en grafiese ontwerp te help.

POLOKWANE – Onderwyser, skoolhoof, pa en oupa was maar slegs ‘n paar van die rolle wat Piet Holtzhausen in sy 66 jaar vertolk het.

Meneer Holla, soos hy geliefd onder Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se personeel, leerders en ouers bekend gestaan het, is op 11 Maart na ‘n kort siekbed oorlede.

Holtzhausen het in 1981 by HTS aangesluit en het in 2019, na byna 40 jaar hier, afgetree.

“Sy droom was om ‘n huis in ‘n wildreservaat te bou met ‘n uitsig waar hy soggens sy koffie kon geniet, Bybelstudie hou en elke dag op ‘n wildsrit kon gaan. Hierdie droom is bewaarheid en hy het sy huis op Nyathi Wildlife and Eco Estate gebou,” vertel sy dogter, Gerdine van den Berg.

Holtzhausen en sy vrou, Ansie het in 2022 hulle intrek in dié huis geneem, minwetend wat vir hulle voorlê.

“My pa het ‘n melanoom op sy rug laat uitsny en die skanderings het gewys hy is gesond. Min het ons geweet die melanoom het reeds begin om in sy liggaam te groei.”

Holtzhausen was vir die laaste vyf jaar van sy loopbaan die skoolhoof van sy alma mater.

Hy is geskoei by HTS – eers as leerder, later as assistent-onderwyser.

Daarna die logiese pad na volwaardige onderwyser, departementshoof, adjunkhoof, waarnemend – en toe skoolhoof.

Met sy aftrede en 60ste verjaarsdag het vriende, familie en kollegas saam makietie gehou.

Hier het hulle van sy diensbaarheid gepraat en die feit dat hy altyd bereid was om leerders te help, selfs na skool.

Tydens dié funksie is Holtzhausen tot Tommie Ridderskap geslaan.

Die huidige hoof, Vanessa Kachelhoffer onthou hoe Holtzhausen, selfs nadat hy hoof geword het, smiddae met leerders gesit het om hulle met ingenieurswese en grafiese ontwerp te help.

“Hy het altyd tyd gemaak vir die Tommies, ongeag hoe besig hy was. Hy was ook betrokke by atletiek, rugby, gholf- en boogskietafrigting.”

Vir sy familie was Holtzhausen ‘n natuurmens, ‘n gesinsman en ‘n trotse pa.

Ansie vertel: “Piet was ‘n positiewe mens. Niks was vir hom te veel om vir iemand te doen nie. Ek was vir hom baie spesiaal en hy het altyd vir my vertel hoe dankbaar is hy dat ek hom ondersteun in alles wat hy aanpak.”

Gerdine sê haar ‘paps’ was haar held en eerste liefde.

“Hy was my pappie wie se arm ek kon draai om te help met enigiets. Hy was nooit te besig om ‘n oproep te beantwoord nie. Jy kon weet dat jy ‘n eerlike en opregte opinie van hom sal kry, sou jy sy raad vra. Hy was ‘n regverdige mens en het sy mense bitter lief gehad.”

Sy seun, Pieter, sê sy pa was soos geen ander.

“Ek kon nog skaars loop toe het ek al ‘n gholfstok in my hand of het ek langs die rugbyveld op en af gehardloop met my trui met ‘n ½ agterop. My pa was vir my legendaries, ek het altyd opgekyk na hom. Die manier waarop hy take aangepak het en sy positiwiteit is dinge wat ek nastreef. As ek eendag net die helfte die mens kan wees wat my pas was, sal ek gelukkig wees.”

Elaine van der Merwe, sy jongste dogter, sê haar pa het altyd reggestaan met die regte antwoord.

“Ek kon altyd op hom staatmaak. Ek sal terugkyk na sy lewe en weet – dit is hoe ‘n mens moet lewe, voluit en positief.”

Vir sy sewe kleinkinders was Oupa Holla ‘n legende, held en staatmaker.

Hy het gesorg dat hy elke sportwedstryd of konsert bywoon. Hy was hulle veilige hawe en weermagstorieverteller.

Hulle kon op sy skoot aan die slaap raak en agter op sy bakkie op die plaas ry. Sy kleinkinders het vir hom baie respek gehad.

Holtzhausen word oorleef deur sy vrou, drie kinders en sewe kleinkinders.

Sy roudiens word op Dinsdag, 21 Maart om 11:00 by HTS Tom Naudé se skoolsaal gehou.

Volgens die inligting is dit nie nodig vir diensgangers om swart aan te trek vir die geleentheid nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon. – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button