NewsSchools

Kinders gee hul menings oor lyfstraf

Review gesels met leerders van Laerskool Pietersburg (Suidskool) oor wat hulle dink die beste strafmaatreëls is.

POLOKWANE – Elke ouerpaar glo in spesifieke maatstawwe om hul kinders te motiveer om by die reëls van die huis te hou.

Review gesels met leerders van Laerskool Pietersburg (Suidskool) oor wat hulle dink die beste strafmaatreëls is.

Die leerders se menings wissel, maar die meeste leerders glo steeds ‘n goeie pakslae op die regte tyd is die beste medisyne vir ore wat nie wil hoor nie.

Amoré van der Linde.
Amoré van der Linde.

Amoré van der Linde glo baie sterk daaraan dat kinders eerder lyfstraf moet kry as wat “wreder” strawwe toegepas word.

“Wanneer kinders nie luister nie, is dit ‘n baie groot straf om in vandag se lewe hulle selfone weg te vat. Kinders het hulle selfone nodig. Wanneer hulle nie met hul vriende kan gesels of iets op sosiale media doen nie, is dit ‘n groter straf en sal hulle twee keer dink voor hulle weer nie luister nie.” vertel sy.

Liezl Schoeman.
Liezl Schoeman.

Liezl Schoeman vertel dat ‘n pakslae op sy tyd wondere kan verrig.

“Kinders moet geslaan word as hulle nie luister nie. Selfs die Bybel sê so en as ons die Bybel en God gehoorsaam, sal ons dié voorskrifte navolg. Ek glo straf moet ook afgewissel word met goed soos skootrekenaars wat weggeneem word en om kinders te laat werk. Kinders hou nie van werk nie,” vertel sy.

Raven Venter glo glad nie in enige lyfstraf nie. “Die seer gaan te gou verby en dan vergeet mens weer, maar wanneer ouers en onderwysers die kinders se aftye wegvat soos Saterdae en hulle in detensie laat sit, dan sal hulle leer om te luister,” vertel hy.

Michelle Jacobs.
Michelle Jacobs.

Michelle Jacobs sê dat onderwysers en ouers saam moet besluit oor die straf wat kinders moet kry.

“As die kind hom nie by die skool kan gedra nie, moet die ouers ingeroep word sodat hulle bewus is van die probleme. Ouers ken ook hulle kinders en sal kan voorstel watter tipe straf die beste gaan werk,” vertel sy.

Alice Maredi.
Alice Maredi.

Alice Maredi glo glad nie daaraan dat kinders geslaan moet word nie.

“Ek dink dis beter om kinders werk te gee om te doen as ‘n straf. Dit leer hulle verantwoordelikheid en vaardighede wat hulle in hulle eie huise kan toepas,” vertel sy.

Chris van der Walt.
Chris van der Walt.

Chris van der Walt glo dat straf baie be-langrik is maar dat beloning net so ‘n groot rol speel in kinders se gehoorsaamheid. “Daar kan nie net vandag aan kinders geslaan word nie. Hulle moet leer wanneer iets verkeerd is ja, maar hulle moet ook beloon en geprys word wanneer hulle reg doen sodat hulle duidelik kan sien wat die verskil is,” vertel hy.

Kyla Kraftt.
Kyla Kraftt.

Kayla Kraftt glo in ‘n sisteem van straf en nie net lyfstraf nie.

“Ouers moet hulle kinders dissipline by die huis leer. As hulle nie weet hoe om daar op te tree nie gaan hulle nie reg optree by die skool nie. By die skool is daar ‘n sisteem in plek en kinders weet wanneer hulle oortree moet hulle pouse in die klas bly sit en wanneer hulle aanhou ortree lui dit tot skorsing. So leer kinders die gevolge van hulle dade.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button