Local News

Oom Theo Goosen (89) se lewe gevier

Oom Theo Goosen, wat 'n plek in omtrent almal in die stad se hart het, is op 21 Desember, 2022, in die ouderdom van 89 oorlede.

POLOKWANE – Alombekend as sakeman, boer, eiendomsontwikkelaar, ‘n groot boom wat vir baie skadu gebied het, Oom Theo Goosen is op 21 Desember, 2022, in die ouderdom van 89 oorlede.

Hy was ‘n legende en dié wat hom geken het, kan getuig van die impak wat hy nie net in die sakewêreld gehad het nie, maar ook in die gemeenskap.

Vir meer as 60 jaar is Theo Goosen Eiendomme sinoniem met Polokwane, en alhoewel die pad na sukses nie altyd maklik was nie, het Oom Theo geglo dat harde werk altyd beloon word.

Hy en sy vrou, Tannie Annatjie haak die knoop deur in 1958, en op 10 Desember 2022, vier oom Theo nie net sy 89ste verjaarsdag nie, maar ook hulle 64ste huweliksherdenking.

In ‘n onderhoud met hom in 2020 vertel hy van hoe sy pa altyd gesê het dat hy vir die regering moet gaan werk, want daar “kry ‘n mens baie voordele”.

Na skool in 1950, op die ouderdom van 16, begin hy by die magistraatskantoor op Mokopane werk, soos hy vertel het, was sy laaste skooldag die Vrydag, en die Maandag klok hy in vir werk.

Oor die jare was daar baie kronkelpaaie, en Oom Theo het vertel hoe hy eendag aansoek gedoen het vir ‘n persoonlike lening, aangesien sy werkgewer hom nie meer kon betaal nie, maar hy wou aanhou werk.

Al wat hy as sekuriteit kon bied, was ‘n polis.

Die bankbestuurder het hom oortuig, aangesien hy reeds vir niks werk nie, hy netsowel vir homself kan werk.

Hy het dag en nag gewerk, en geglo dat geluk sou volg.

Oom Theo se seuns, Philip, Francois en Retief getuig van sy harde werk.

“My pa was soos ‘n fox terrier as dit by besigheid kom. As hy ‘n transaksie ruik, het hy dit nie gelos tot dit afgehandel is nie. Hy het geglo in besigheid draai ‘n mens nie doekies om nie, gee altyd die ware feite en neem die besluit op die tafel. Niks word onder die tafel gedoen nie,” vertel Francois.

Philip beskryf sy pa as regverdig.

“As een van ons iets gekry het, het die ander ook gekry. My pa het geglo dat as jy iets gedoen wil hê, of eerder, as jy iets reg gedoen wil hê, doen dit self.”

Retief onthou hoe sy pa gehou het van werk, “vir hom was dit die lekkerste ding in die wêreld om te werk, en om goed reg te maak”, iets wat hy glo hy by sy pa geërf het.

As kinders onthou hulle die visvanguitstappies, hoe die blou ‘kombi’ vasgesit het en die waterski-tou tot hulle redding moes kom.

Die gholfvakansies aan die Suidkus en hoe Oom Theo vir Retief op die plaas leer bestuur het.

“Ons het altyd vir ure gholfballe agter in die tuin geslaan, my ma het ons uitgetrap want ons het haar gras uitgeslaan,” onthou Retief.

“Ek het my liefde vir gholf by my pa geleer, en dan natuurlik by Francois ook. Ek het vir hom gecaddy,” skerts Retief.

Tot die dag van sy dood het Oom Theo gholfraad met Retief gedeel en hy onthou hoe sy pa ‘n paar keer in Amerika en Engeland kom gholf kyk het.

“Sy tydsberekening was nie altyd so goed met die raad nie, en as ek nie goed gespeel het nie, het hy sommer sy vliegtuigkaartjie vervroeg en teruggevlieg,” sê hy.

Die seuns spot dat Oom Theo nooit kon stilsit nie, selfs op vakansie, moes sy hande altyd besig bly, iets wat Retief erken hy ook moeilik doen.

Ditjies en datjies weggooi was nie sommer ‘n opsie vir Oom Theo nie en bymekaarmaak was beslis ‘n stokperdjie, Philip en Francois moet bieg, dat hulle dié stokperdjie baie goed nastreef.

Sy liefde vir die plaas en boer is eie aan hom, daar waar hy op sy gelukkigste was.

Oom Theo het geken van sente omdraai, en Francois onthou hoe hulle, hulle eie toebroodjies, koffie, melk en suiker moes saamneem as hulle gaan gholf speel het.

Daar is ook nie water gekoop nie, want Oom Theo het geglo dat kraanwater net so goed is.

Phillip glo dat sy pa so spaarsamig was, omdat hy met min grootgeword het, en geglo het ‘n mens werk hard vir jou geld.

Almal wat Oom Theo geken het, het dit eens, dié storieverteller kon tot in die fynste detail alles onthou.

“Met my pa se verstand was daar niks fout nie, hy het alles en almal geken en onthou, by die naam,” vertel Philip.

Sy seuns sal hom onthou vir die lewenslesse wat hulle by hom geleer het.

“My pa het geglo dat as jy iets wil hê moet jy daarvoor werk en voluit daarvoor gaan. Hy het vir jou die geleentheid gegee, maar jy moes ‘n sukses daarvan maak. Sy liefde vir die veld en boerdery is beslis iets wat ek by hom geleer het,” vertel Philip.

Francois sal altyd dankbaar wees vir die geleenthede wat sy pa vir hom gegee het, die vertroue en ondersteuning, en vir die platform wat hy gelê het vir die familiebesigheid om só suksesvol te wees.

Goeie gene is beslis iets wat Retief by sy pa gekry het.

“My pa se werketiek is iets wat oorgespoel het na my gholf. Met talent en harde werk, kan jy net suksesvol wees, ek is dankbaar daarvoor,” sê Retief.

Sy vyf kleinkinders was na aan sy hart en hy het altyd ingeloer om te hoor hoe dit met hulle gaan.

‘n Gedenkdiens is verlede Dinsdag vir hom by N.G. Moerdergemeente gehou, waar familie en vriende sy lewe gevier het.

Hy word oorleef deur sy vrou, Tannie Annatjie, hulle drie seuns, Philip, Francois, Retief, twee skoondogters, Tracy en Alida en vyf kleinkinders, Chantelle, Theo, Odette, Leo en Ella.

Sy stem is stil, maar sy nalatenskap sal altyd onthou word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button