Local News

Die Jakaranda Ringbalklub is terug en reg vir aksie

Ringbal is 'n sport vir die hele familie, en Petrus Coetzee van die Jakaranda Ringbalklub nooi geïnteresseerdes uit om die jaar aan te sluit.

POLOKWANE – Die Jakaranda Ringbalklub hervat oefening vandeesweek en nooi alle belangstellendes om by hulle aan te sluit.

Daar word elke Dinsdag en Donderdag van 18:00-20:00 geoefen en spelers van enige ouderdom is welkom.

Petrus Coetzee van die Jakaranda Ringbalklub sê die hele familie kan deel hê en dit is hope pret.

Tydens die oefening word daar gefokus op fiksheid en die nodige tegnieke om die sport goed te beoefen.

“Ringbal is baie dieselfde as netbal, maar daar is nege spelers in ‘n span. Net soos netbal is die baan in drie dele verdeel. Drie spelers van elke span speel in die derdes. Hulle mag glad nie buite hulle derde speel nie en mag ook nie met die bal vorentoe, agtertoe of sywaarts beweeg nie.”

Hy verduidelik die doel word deur die doelgooier gegooi en sy of hy mag enige plek buite die doelsirkel staan.

Die bal word met beide hande van onder gegooi en nie soos in netbal met oorhoofse beweging nie.

Twee spelers van een span mag nie aan die bal raak nie en sou die bal regoor ‘n derde gaan sonder dat ‘n speler daaraan raak, word dit as ‘n fout geblaas.

Elke wedstryd bestaan uit twee helftes van 25 minute elk en rustyd van drie minute.

Om deel te raak van dié familiesport, skakel vir Petrus by 083 383 5566.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button