Local News

Groot fees by Piet Potgieter Monument Ouetehuis

Dit is die agste jaar wat die ouetehuis die Kersliggiefees vir die gemeenskap aanbied en is vanjaar weereens 'n reuse sukses.

MOKOPANE – Die jaarlikse Kersliggiefees het Donderdag afgeskop met ‘n kersmark waar die Piet Potgieter Monument Ouetehuis hulle deure vir die publiek oopgemaak het om na die 15km-lange kersliggies in die gange van die tehuis te bewonder.

Die Kersliggieprojek lok jaarliks honderde mense en vanjaar is dit die agste keer wat dié fees plaasvind.

Tydens die opening was daar ook verskeie stalletjies waar daar van speelgoed, heerlike koffie, vrugtekoek, gebreide items, juweliersware, klere en selfs kos verkoop is.

Die dansers van Dansmuis het die kersmark, Donderdag geopen waartydens hulle die gehoor vermaak het met hulle oulike danspassies.

Tussendeur het Thys Gouws liedere uit die bejaardes se jongerdae gesing.

Die Vrydagaand het die Forever Young lyndansgroep vir die gehoor kom wys hoe word dit gedoen om op lekker musiek saam te dans.

Daarna het drie dansers van die Montoya Spaanse Dans Akademie al die pad van Pretoria af die inwoners betower met hulle unieke Spaanse danspassies.

En laastens het die dansers van Z’s Dans Studio weer gewys wat in hulle skoene sit met hulle danspassies.

Saterdag het Eugene Cooper die gaste vermaak met sy goue stem tydens Maxi’s se ete op die Game sentrum se dak, waar die gaste na die ete toegang tot die tehuis gekry het om die skouspelagtige liggies te beleef.

Sondag is die liggiefees kersmark afgesluit deur ‘n kerssangdiens wat deur ds. Hennie Nel waargeneem is.

Christiaan Baartman het ook kom kuier by die kerssangdiens.

Die Piet Potgieter Monument Ouetehuis bedank al die mense wat die naweek uitgestal het, asook al die inwoners wat ‘n draai gemaak het om die fees ‘n reuse sukses te maak.

Die kersmark is dalk klaar maar die liggiefees hou aan tot 24 Desember, waar die inwoners nog steeds die kans kry om na die liggies te gaan kyk teen R10 per persoon.

Die hekke is oop vanaf 18:00-21:00 behalwe as daar beurtkrag is, dan sal daar nie toegang na die liggies wees nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button