Local News

Die Arend Bergwag ‘n familie van vriende wat bystaan en omgee

Die Arend Bergwag se span was onlags vereer vir hulle vinnige reaksie en deurlopende ondersteuning wat hulle aan die gemeenskap bied.

MOKOPANE – Die Arend Bergwag is onlangs tydens ‘n jaareindfunksie by Stutterheim Lodge vereer vir hulle vinnige reaksie om veiligheid in die omgewing te verseker.

Die span wat al vir twee jaar die gemeenskap se belange op die hart dra bedien die kleinhoewes in die Planknek, Maribashoek, Oorlogsfontein en Rooipoort omgewing, maar hulle het ook lede in die dorp.

Ondervoorsitter van die Arend Bergwag, Brendon Williams, verduidelik trots dat die aktiewe reaksiespan reageer op veldbrande, inbrake en noodgevalle, om ‘n paar op te noem, in die aangewysde areas.

“Die Arende is in noue samewerking met SOS reaksie en ambulansdienste, Rural Safety, HPG asook die SAP, Working on Fire en die Brandweer.”

Brendon voeg by dat die span vanjaar ‘n baie goeie suksessyfer gehad het en dat twee voorvalle vir hom uitstaan.

“Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat die span hulle vir drie dae dopgehou het. Die verdagtes het drade geknip om toegang tot die eiendomme te verkry waar die eienaars se waardevolle besittings gebuit is. Hulle is op heterdaad betrap. Ons het hulle vasgetrek en die twee verdagtes is aan die polisie oorhandig. Nog ‘n uitklophou was dat ons bekende
wildsboere in die omgewing kon bystaan wie se plase deur stropers geteiken is. Ons manne het die stropers se patroon begin volg en hulle een aand ingewag. Dit was lekker om te kon sê dat die stropers saam met hulle honde gevang is.”

Die Arend Bergwag beywer hulle nie net vir die veiligheid van die kleinhoewes nie, maar het ook ‘n voedselskema wat kos insamel en uitdeel vir die minderbevoorregtes.

“Ons het ‘n stukkie grond waar daar groente met liefde versorg word om sodoende die gesinne in nood te kan ondersteun. Ons het ook ons eie nood mediese span vir daardie onvoorsiene
oomblikke. Almal by die Arend Bergwag is voorwaar ‘n familie van vriende wat omgee vir mekaar en altyd na mekaar kyk.”

Brendon nooi belangstellendes wat wil deel word van die wenspan om vir hom te skakel by 082 323 8052.

“Sluit aan om jou veiligheid en bystand te verseker, kleinhoewes en dorp bewoners is welkom.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button