Local NewsSchools

‘Moeilik’ is nie in Antonette Jordaan se woordeskat nie

Dié wiskunde-onnie by Tegniese Hoërskool Tom Naudé dring deur na die finale rondte van die 22ste Nasionale Onderrigtoekennings.

POLOKWANE – Die woord ‘moeilik’ is ‘n “vreeslike vloekwoord” in juffrou Antonette Jordaan se wiskundeklas.

Sy verkies dat haar gr. 11- en gr. 12-leerders eerder die woord ‘uitdagend’ gebruik.

Dit is dié positiewe benadering wat Antonette, wiskundeonderwyser by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en distriks- en provinsiale wenner, tot in die finale rondte van die 22ste Nasionale Onderrigtoekennings (National Teaching Awards) geneem het.

“Nadat die skool my vir die toekenning genomineer het, moes ek myself in ‘n duisend woorde beskryf. Daarna is ek genooi om ‘n voorlegging vir die distrikrondte te gee. Ek moes vir 35 minute praat oor my klasse, die impak en diversiteit wat ek bied en hoe die algemene integrasie plaasvind. Ek moes ook verduidelik hoe wiskunde in die leefwêreld gebruik kan word en hoe kinders met spesiale behoeftes dit kan toepas. Verder moes ek ook verduidelik hoe ek die leerders motiveer en positief oor wiskunde hou.”

Na die distriksrondte was dit die provinsiale rondte en hier het sy twee dae opleiding ontvang.

Sy is genooi na die prysuitdeling en het in haar hart besluit sy het gewen.

Daar was 13 kategorieë en sy het in die Excellence in Teaching Mathematics (FET)-kategorie deelgeneem.

Al het Antonette nie aan al die kriteria vir die voorlegging voldoen nie, het die beoordelaars saam met haar gestem en is sy as provinsiale wenner aangewys.

Tydens die laaste rondte het dinge begin skeefloop.

“Eers wou die video van die voorlegging nie speel nie en hier teen die sesde skyfie het ek besef dit is die verkeerde voorlegging. Ek het ‘n plan gemaak en my werk met meer besonderhede aan die beoordelaars verduidelik. Ek het deur die voorlegging gepraat en binne my 35 minute klaargemaak.”

Antonette is een van nege finaliste wat op 20 Oktober tydens die gala-aand gaan hoor wie die wenner is.

“Ek is trots om te sê ek is een van nege van die beste onderwysers in die land. Wiskunde is die vak wat die fondasie skep vir probleemoplossings. Alles in die lewe kort probleemoplossingstegnieke.”

Sy maak gebruik van tegnologie om wiskunde makliker te maak vir die leerders.

Haar doel is om terug te gee aan die gemeenskap deur ander onderwysers op te lei oor die praktiese benadering van wiskunde en watter impak dit op die kind het.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button