Local NewsSchools

Dié onnie voel tuis in die wiskundeklas en op die krieketveld

Alicia sê 'n krieketkolf het sonder dat sy daarvoor gevra het in haar hand beland, en nou geniet sy die sport deur en deur.

POLOKWANE – Op ‘n gewone weeksoggend gee Alicia Farinha wiskunde vir laerskoolleerders van Curro Heuwelkruin.

Gedurende die middag rig sy die o/13-krieketspan af en naweke speel sy self vir Aces Krieketklub se vrouespan.

Alicia het eers by Pietersburg Laerskool afgelos en begin om te help met mini-krieket.

Later het sy by Heuwelkruin aangesluit en aangebied om ook hier krieket af te rig.

“Ek is vanjaar die krieketorganiseerder by die laerskool. Ons het ‘n paar lekker wedstryde gehad sover waarvan die een teen Nirvana Primary die uitdagendste was. Hulle het ons behoorlik opdraande gegee. Die wedstryd teen Laerskool Messina was besonders lekker.”

Alicia sê vyf van haar spelers is deur om aan die finale proewe vir die Limpopospan deel te neem.

“Die proewe is gedurende die vakansie gehou. Ek is baie trots op die seuns.”

Oor hoe Alicia self met ‘n krieketkolf in die hand beland het, sê sy net dit het sonder dat sy daarvoor gevra het, gebeur.

“Ek hou reeds van ‘n jong ouderdom van krieket en my rolmodel was Hansie Cronjé. Ek is nie so lief vir afrig nie en sal eerder wil speel of skeidsregter wees. Ek wou nog altyd paaltjiewagter wees, maar is ‘n veelsydige speler.”

As vroulike krieketspeler voel Alicia skole moet krieket vir meisies aanbied.

“Ek dink baie skole sien krieket nie as ‘n sport vir meisies nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button