Local News

Steele-familie groet na kort maar waardevolle tyd in Polokwane

James Steele is opgewonde vir sy nuwe hoofstuk, maar beloof dat die oorgang geleidelik vir Oosskool sal plaasvind.

POLOKWANE – Na net bietjie minder as ses suksesvolle jare groet James Steele en sy vrou, Sonja, nie net vir Oosskool nie, maar ook vir Polokwane.

Dié onderwysegpaar en hulle twee kinders, het vroeg in 2017 deel van die Osie-familie geword toe James as adjunkhoof (buite-kurrikulêr) en Sonja as onderwyser aangestel is.

James was aktief betrokke by sport en ‘n gewilde rugby-afrigter onder spelers en hulle ouers.

Nou is dit egter weer tyd om hulle vlerke te sprei, en dié keer roep Groblersdal waar James die pos as skoolhoof by Laerskool Julian Muller aanvaar het.

“Dié geleentheid het oor ons pad gekom in Junie, en ek het aansoek gedoen. ‘n Maand later moes ek vir die onderhoud gaan en op 27 September is ek ingelig dat ek die pos as skoolhoof gekry het.”

Sonja en hulle twee kinders, Megan (11) en Tayler (8), gaan vir eers in Polokwane aanbly voordat hulle op 1 November by James aansluit.

“Ons gee die kinders eers die geleentheid om deel te wees van Oosskool se revue. Skuif is vir kinders ‘n aanpassing, en ons wil dit vir hulle makliker maak. Oosskool was vir hulle goed, hulle het destyds vinnig aangepas en goeie vriendskapsbande gebou.”

Hy vertel hulle is terselfdertyd opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê.

James sê daar is nog onafgehandelde sake wat hy eers aandag aan moet gee by Oosskool voordat hy al sy aandag aan die nuwe uitdaging kan wy.

“Om in die vierde kwartaal van skool te verander is as hoof die ideale skuif. So vorm ek deel van die nuwe jaar se beplanning en vind ek my voete voor die geharwar van die nuwe jaar. Dit is egter sleg vir Oosskool so die oorgang gaan geleidelik wees.”

Hy sluit af deur te sê hulle gaan Polokwane, Oosskool en sy mense mis.

“Ons het goeie jare hier gehad, maar nou is dit tyd om aan te beweeg. Ons is gereed vir die nuwe uitdagings wat vir ons voorlê.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button